Theunis Nel: “God het my vir ʼn doel gespaar”

Theunis Nel en Anria van Heerden, aanbieders van die motorfietsprogram Woema op kykNET.

Theunis Nel en Anria van Heerden, aanbieders van die motorfietsprogram Woema op kykNET. Foto: Facebook.

As alles goed verloop sal Theunis Nel, akteur en aanbieder van die motorfietsprogram Woema op kykNET, moontlik oor ʼn maand weer kan terugkeer huis toe ná sy ernstige motorfietsongeluk verlede jaar.

Nel moes Vrydag weer ʼn operasie aan sy regterbeen ondergaan, wat ʼn beplande prosedure was om een van nege frakture aan die been te herstel.

“Daar is geen krisis nie. Dokters het my gewaarsku dat daar nog ʼn paar prosedures voorlê voordat ek weer heeltemal mobiel gaan wees,” het hy Maandag in ʼn verklaring gesê.

Sedert die ongeluk op 10 November is hy in die Unitas-hospitaal in Centurion behandel. Benewens die nege breuke aan sy regterbeen het hy ook ribbes gebreek, sy linkerknie se ligamente geskeur en inwendige beserings opgedoen. Sy regterarm moes ook noodgedwonge geamputeer word om sy lewe te red, en ná die ongeluk was hy vir veertien dae gekoppel aan ʼn masjien wat die funksie van sy longe moes oorneem.

Hy is op 17 Desember uit Unitas ontslaan en is sedertdien in ʼn rehabilitasiekliniek in Pretoria waar hy onder meer fisioterapie en arbeidsterapie ondergaan. “My mediese span is fantasties. Ek kan hulle nie genoeg bedank vir alles wat hulle vir my doen nie.”

Na die jongste operasie lê daar na verwagting minstens nog ʼn maand in die rehabilitasiekliniek voor. “Ek is vol vertroue dat ek daarna sal kan huis toe gaan. Die afgelope twee maande was die grootste uitdaging van my lewe, maar dit was ook ʼn geloofsreis. Al het ek nog daagliks baie pyn, ervaar ek duidelik die Here se hand in alles wat gebeur het. Ek glo Hy het my met ʼn doel gespaar.”

Nel en sy vrou, Mareli, het die media en publiek bedank vir die belangstelling in sy vordering. “Ons voel nederig dankbaar vir al die boodskappe, hulp en gebede in hierdie moeilike tyd,” het Mareli gesê. “Ons glo mense sal verstaan dat ons nie op elke boodskap kan reageer nie. Nou fokus ons ten volle op Theunis se herstel. Ek en die seuns kan nie wag dat Theunis huis toe kom nie.”

Sy dokters is tevrede dat Vrydag se prosedure suksesvol was en dat Nel goed aansterk. Na verwagting sal hy oor vyf weke weer ʼn prosedure aan sy been ondergaan waarna dokters sal besluit oor verdere behandeling. Die spesialiste in beheer van sy behandeling skat dat dit minstens ʼn jaar sal duur voordat hy ten volle herstel het van al sy beserings.

Maroela Media het vroeër berig Nel het die dag van sy ongeluk met sy BMW GS 1150 op die nat snelweg gery toe hy naby die Garsfontein-afrit op die N1 moontlik op ʼn oliekol gegly het. Toe hy op die pad land het hy, soos hy opgelei is, sy motorfiets weggeskop en in die middel van die snelweg bly lê. Twee motors kon daarin slaag om hom te vermy, maar ʼn bakkie, wat glo ook gegly het, het teen ander motors gebots en hom getref. Nel het glo onder die bakkie beland en is vir ʼn paar meter onder die bakkie gesleep tot waar die bakkie tot stilstand gekom het met hom steeds onder die bakkie. Paramedici van Netcare 911 het hom in ʼn kritieke toestand sowat 100 meter van sy motorfiets se wrak aangetref. Altesaam ses voertuie was in die ongeluk betrokke.

Lees vorige berigte oor die voorval hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Melanie ·

Hi ek is op 19 okt 2014 van my motorfiets afgery en is sederdien in die hosp in stellenbosch. Ekt ale funksie in my linker arm verloor. Ek verstaan presies waardeur Teunis gaan. Ek gaan ook donderdag in vir ‘ n knie operasie wat my 12de operasie sal wees. Sterkte Theunis.

Riana ·

Wonderlike nuus dat dit Goed gaan met Thinus, Melanie alle sterkte aan jou ook, mag jy spoedig herstel, Alles het n doel in ons lewens, ons verstaan dit nie dalk altyd nie, maar na n rukkie as jy terug kyk verstaan mens tog :-)

Theresa ·

Jammer om van jou ongeluk te verneem Melanie. Baie sterkte vir jou asook vir Theunis vir die lang herstelpad wat voorlê. Soos Theunis ook terregte sê : Die Here het ‘n doel met alles en daar is ‘n rede hoekom julle altwee lewe. Staan sterk in julle Geloof. Alles sal reg uitwerk. Julle is nooit alleen nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.