Theuns Eloff bedank by FW de Klerk-stigting

dr-theuns-eloff

Dr. Theuns Eloff. (Foto: Facebook)

Dr. Theuns Eloff, voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting, het ná betrokkenheid van meer as 10 jaar by die instelling bedank. “Dit is die afsluiting van die hoofstuk,” het hy Dinsdag gesê.

Eloff sê tussen 14 Februarie en 13 Maart vanjaar het ʼn reeks gebeure plaasgevind wat hom gedwing het om sy voortgesette betrokkenheid by die stigting te heroorweeg.

“Dit het begin met ʼn verklaring deur die stigting op Vrydag 14 Februarie 2020 – een waarin die persoonlike en onsmaaklike aanvalle deur die EFF op FW de Klerk tydens die opening van die Parlement ten regte veroordeel is, maar waarin daar ook ontken is dat apartheid ʼn misdaad teen die mensdom is,” het Eloff gesê.

“Die laaste uitspraak het ʼn storm op sosiale media en in die hoofstroommedia veroorsaak. Ek is nie in die samestelling en uitreiking van hierdie verklaring geken of geraadpleeg nie, en het trouens eers op 15 Februarie daarvan kennis moes neem toe ʼn joernalis my daarmee gekonfronteer het.”

Eloff sê dit het later duidelik geword dat Dave Steward, die voorsitter van die stigting, die verklaring geskryf het. Oudpres. De Klerk het toestemming gegee dat dit aan die media gestuur word.

“Ek en ander raadslede het oor die naweek telefonies gepraat en e‑posse gestuur om ons kommer en teenstand oor die verklaring uit te spreek. Dit is op Maandag 17 Februarie onvoorwaardelik en met apologie teruggetrek. Beide mnre. De Klerk en Steward het om verskoning gevra en gesê dat dit ʼn oordeelsfout en die gevolg van ʼn emosionele oorreaksie op die EFF-aanvalle was.

“Die skade aan die stigting en mnr. De Klerk se eie geloofwaardigheid was egter reeds gedoen.”

Oudpres. FW de Klerk by die Staatsrede op 13 Februarie vanjaar. (Foto: Phando Jikelo/ANA)

Op 13 Maart kon die oudpresident ʼn trusteevergadering van die stigting bywoon en by dié vergadering het die trustees hulle teenkanting teen die verklaring uitgespreek. De Klerk en Steward het weer verskoning gevra – wat die trustees aanvaar het – maar die trustees het ook daarop gewys dat ʼn “lang en moeilike pad voorlê om verlore geloofwaardigheid, respek en aanvaarding terug te wen”.

Eloff sê hy het by dié vergadering aangedui dat hy sy verbintenis met die stigting verbreek, maar hy is gevra om tot April te wag om dit te doen. Hy het die afgelope week sy bedanking ingedien.

“Die hoofredes vir my bedanking is eerstens dat ek nie met die inhoud van die 14 Februarie‑verklaring en die proses wat dit voorafgegaan en gevolg het, kon saamstem nie – en dat die terugtrek daarvan nie die skade wat gedoen was, kon herstel nie.

“Tweedens het die verklaring my eie integriteit en geloofwaardigheid onder verdenking gebring. Ek is deur talle vriende en kennisse daaroor verkwalik en selfs aangeval – waarskynlik omdat hulle verkeerdelik van mening was dat ek steeds aktief by die stigting betrokke was en daarom vir die verklaring verantwoordelik was of dit selfs geskryf het. Ek kon myself nie in die openbaar verdedig nie omdat ek daardeur die leierskap van die stigting onder verdenking sou bring.

“Derdens het ek besef dat my geloofwaardigheid by die ander organisasies waarby ek steeds betrokke is, ook onder verdenking gebring word deur my voortgesette verbintenis met die stigting.”

Eloff is sedert 2019 in ʼn afgeskaalde kapasiteit – en glad nie meer by die dag tot dag bestuur nie – van die stigting betrokke.

Hy sê hy werk steeds as nie-uitvoerende voorsitter van Astral Foods, as voorsitter van die Dagbreektrust, die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis, en die Trust vir Afrikaanse Onderwys. Hy is ook voorsitter van die onlangs gestigte private maatskappy MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole) om nie-rassige Afrikaanse skole te koop, te bou en te bedryf.

“Ek bly ook betrokke by ander gespreksgroepe oor nasionale en versoeningskwessies,” het Eloff gesê.

Hy sê hy het oorweldigende positiewe reaksie op sy besluit gekry. “Almal het begrip dat ek nie ʼn ander keuse gehad het nie, maar dit beteken nie hulle is noodwendig negatief oor die stigting nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Is die ANC/EFF se huidige BEE en ander baie gevalle van rasse diskriminasie teen die blanke en ander bevolkingsgroepe nie ‘n misdaad teen die mensdom nie, indien Apartheid as sulks geklassifiseer word? Beter dat hy gaan, hy is nie opgewasse teen die kommuniste nie. Daar kon hard teruggeslaan word met dieselfde stok.

Michael 1 ·

Onthou de klerk is betroke en dit is sy stigting en almal weet wat hy is,

Jacobus ·

Mens kan dit verstaan. Ongelukkig kan jy nie anders as om jou hande vuil te kry wanneer jy met politiek te doen kry nie.
Ken jou as ‘n persoon van integiteit. Die politiek is tans so vuil dat dit soms beter om skuilng te soek. Bly om Hemelsnaam net weg van die fop (gemors) pers.
Groete en sterkte

Michael 1 ·

En so sal ons moet begin opstaan en sê genoeg is genoeg diskriminerende wette en regulasies moet stop gesit word ,ons het ware leiers nodig en ongelukkig sit ons met n gedeelte van die minderhede wat soos de klerk en sy faksie dink ,om te wil kruip voor die vyand is nie n oplossing nie dit word gesien as swakheid,maar dankie prof Elof so kom ons stappie vir stapie nader om die diskriminasie euwel se rug te breek.

Johan ·

Baie geluk Theuns, jou intellek en integriteit sal jou goed te staan kom. Voorspoed vir jou toekoms.

'n Simpelman ·

Stem Martie.
Ek hoop nie vir een minuut dat daar gedink word hulle (de Klerk, stigting, Theuns) verteenwoordig Afrikaner.
Sal graag wil hê hulle moet ‘n verklaring uitreik oor vergelyking oor land se ekonomie in 1993 en 2020, met klem op staat en semi-staat instellings.

Ek dalk te simpel, maar kon nog nooit hulle stigting se doel en werke verstaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.