Theuns se ma sterf rustig

Theuns Jordaan en sy ma, Maryna. (Foto: Facebook/Afrikaans is Groot)

Die Afrikaanse sanger Theuns Jordaan se ma, Maryna, het Sondag “rustig gesterf” by die versorgingsoord op Bethulie in die Vrystaat waar sy gewoon het.

Volgens Maryna se dogter, Linda, wat saam met haar ma by die versorgingsoord naby die familieplaas buite Venterstad gewoon het om naby haar ma te wees, het sy haar ma se hand vasgehou toe sy gesterf het.

Maryna was 79 jaar oud.

“Ek en my ma het die vorige aand nog na As jy sing, die Afrikaanse fliek waarin Bobby van Jaarsveld en Leah speel, gekyk en sy het ʼn vonkel in haar oog gehad. Sondagoggend het ek haar hand vasgehou toe sy weg is,” het Linda gesê.

“Sy gaan ʼn groot leemte in ons lewens laat.”

Maryna was reeds ʼn geruime tyd in die versorgingsoord en kon nie Theuns se gedenkdiens, wat Vrydag in die kerkgebou van die NG Moreletapark-gemeente in Pretoria plaasgevind het, bywoon nie. Linda het ook in Bethulie agtergebly om haar ma te ondersteun.

Theuns het op 17 November in die ouderdom van 50 sy stryd teen leukemie verloor.

‘n Foto van Theuns Jordaan, sy ma, Maryna, suster Linda en pa Willie wat in Theuns se gedenkdiensbrief verskyn het.

Willie Jordaan, Theuns se pa, was Sondag op pad terug van Pretoria af. Hy is Vrydag tydens sy seun se gedenkdiens deur die sangeres Juanita du Plessis, haar man, Doepie, en die sangeres Cordelia ondersteun.

Oom Willie, soos Theuns se vriende en kollegas liefdevol na hom verwys, het Vrydag op die gedenkdiens na Maryna as sy eie witkoppie verwys.

Willie en Maryna het mekaar in 1965 op Aliwal-Noord ontmoet en was 56 jaar lank getroud.

“My pa het geboer en sy was die nuwe onderwyseres op die dorp,” het Linda gesê.

Maryna se begrafnis vind op Donderdag 2 Desember om 11:00 uit die NG Kerk Venterstad plaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Elize

Sterkte. Dis darem baie hartseer in so ‘n kort tydjie.

Janee

Hoe hartseer….maar ook so wonderlik dat hulle nou saam sal wees.

Diline

So hartseer om 2 mense vir wie hy so lief was, so kort na mekaar aan die dood af te staan. Mag ons Hemelse Vader hom en sy dogter die krag gee om deur hierdie moeilike tyd te kom. Sterkte aan al die familie en vriende.

ZANNE

Baie sterkte aan die familie. Mag ons Hemelse Vader bonatuurlike vertroosting bring.

Misky

My hart gaan uit na oom Willie en Linda. Sterkte nou en vorentoe en weet dat hulle nou saam is en Theuns nie meer seer het nie