Theuns se woorde in FAK-liedjietuin verewig

Theuns Jordaan se suster, Linda, en sy pa, Willie, by die onthulling. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Musiek is nie net lirieke en melodieë nie, maar ʼn taal wat mense saambind en waarin hulle hul diepste emosies uitbeeld. Theuns Jordaan was een van die min kunstenaars wat dit reggekry het om daardie taal uitnemend te bemeester.”

Met dié woorde het dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), lirieke van die ontslape sanger Theuns Jordaan se lied, “Vreemde stad”, in die FAK-liedjietuin verewig met die onthulling van sy liedjiebord.

Die FAK se Afrikaanse liedjietuin is in 2012 by die Voortrekkermonument in Pretoria opgerig om as ʼn lewende monument erkenning aan reuse in die Afrikaanse musiekbedryf te gee.

Die woorde van “Vreemde stad” pronk nou op ʼn granietbord tussen lirieke van kunstenaars soos Johannes Kerkorrel, Koos Kombuis en Anton Goosen en word omring deur spesiaal gekweekte rose wat ook na Afrikaanse legendes vernoem word.

“Selfs as Theuns nog geleef het, sou hy hierdie toekenning gekry het. Dis jammer dat hy dit nie self kan ervaar nie,” het dr. Danie tydens dié intieme seremonie gesê.

ʼn Handjievol vriende, familie en kollegas het dié funksie bygewoon, waaronder Theuns se pa, Willie Jordaan, en sy suster, Linda.

Linda Jordaan. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

Willie het gesê dat Theuns “Vreemde stad” nie uitgedink het nie, “hy’t dit wat hy in daardie oomblik gevoel het, neergeskryf. Dis ʼn emosionele en eensame lied, uit die hart. Dit was oor sy vrees oor wat op hom in dié nuwe stad wag,” het Willie oor sy keuse gesê.

“Theuns was … is my seun. My trots. My verlange. Hierdie is ʼn geweldige eer wat die FAK hom gee en ek wil namens my seun baie dankie sê. Waar Theuns nou is, glimlag hy. Nie net oor die toekenning nie, maar ook oor sy vriende wat hier is.”

Dié geliefde sanger en liedjieskrywer het op 17 November 2021 sy stryd teen leukemie verloor.

Hy is in 2022 amptelik in die Suid-Afrikaanse Heldesaal (Hall of Fame) ingehuldig en ook tydens verlede jaar se Afrikaans is Groot (AiG)-konserte met ʼn roerende huldeblyk vereer.

Sy nalatenskap is die afgelope naweek tydens ʼn konsert by Loftus Versveld gevier.

Volgens sy suster, Linda, is die liedjietuin nou vir haar soos “heilige grond”.

“Theuns en Juanita sing in hul een lied, ‘ken jy die pad na ‘n plek wat ‘n merk in jou hart los.’ Ek kon nie my broer se begrafnis bywoon nie, want ek moes omsien na ons ma, so die FAK se liedjietuin los nou beslis ʼn merk in my hart,” het sy aan Maroela Media vertel.

Volgens haar is “Vreemde stad” die mees gepaste lied omdat dit ook die einde van Theuns se lewensreis weerspieël het, veral die lirieke, “my deur staan heeldag wawyd oop, maar net nog stilte, het hier ingeloop”.

Linda en Willie Jordaan by Theuns se liedjiebord. (Foto: Jhua-Nine Wyrley-Birch/Maroela Media)

“Hy moes aan die einde weens die pandemie in isolasie wees, maar ek vind vertroosting in sy nalatenskap en die geweldige impak wat sy musiek gehad het.”

Linda woon tans in die Gariepdam-omgewing en vertel dat sy haar werk as onderwyser by ʼn skool vir kinders met leergestremdhede geweldig geniet.

Sy erken dat sy nie weet wanneer sy self weer ʼn kitaar sal optel nie en tans haar geestes- en fisiese gesondheid prioritiseer. Sy sê sy meet nou haar gedrag en dit wat sy aanpak aan wat Theuns daarvan sou dink.

“Ek dra darem weer my juwele en ʼn bietjie grimering, maar ek vat alles een tree op ʼn slag.”

Haar hoop is dat Theuns as ʼn ligdraer onthou word.

“Ons kan dit nie verstaan nie en die verlange bly maar daar. Daarom herinner ek mense om hul naastes te waardeer want tyd is kort en uiters kosbaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.