Thohoyandou-moord: Dokter vra dán om borgtog

Dr. Ndivhuwo Mudau. Foto verskaf deur SAPD

Dr. Ndivhuwo Mudau. Foto verskaf deur SAPD

Die 25-jarige mediese dokter wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op ʼn 25-jarige vrou, wie se liggaam in ʼn huis op ʼn hospitaalperseel in die Thohoyandou-gebied gevind is, het Donderdag weer in die hof verskyn.

Volgens lt.kol. Moatshe Ngoepe, provinsiale polisiewoordvoerder van Limpopo, het Ndivhuwo Mudau vlugtig in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklag van moord op sy vriendin. Die saak is tot 10 November uitgestel wanneer Mudau na verwagting om borgtog gaan aansoek doen. Hy bly in aanhouding.

Maroela Media het vroeër berig Mudau het homself aan die polisie oorgegee ʼn week nadat sy vriendin vermoor is en die polisie na hom gesoek het.

Refilwe Makoma Mapaana (25) se liggaam is op Vrydag 7 Oktober omstreeks 19:00 in die huis op die terrein van die Tshilidzini-hospitaal net buite Thohoyandou gevind. Sy het verskeie steekwonde aan haar liggaam gehad.

“Volgens ons voorlopige ondersoek was die dokter en die oorledene in ʼn romantiese verhouding. Die oorledene is ʼn student aan die Universiteit van Venda in Thohoyandou, maar kom van Nkowankowa buite Tzaneen,” het Ngoepe vroeër gesê.

“Sy is die Maandag laas lewend gesien. Die motief vir die moord is nog nie bekend nie, maar huishoudelike geweld kan nie uitgeskakel word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Theresa ·

Word daar nog streng keuring op mense gedoen wat ‘n dokter wil word?? 25j oud. Dus pas klaar studeer en foeter net daar sy hele loopbaan op? Keuring gefaal.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.