Thoko gemaan om Oos-Kaapse boere te help

(Foto: Elaine Krige/Maroela Media)

Die sewe jaar droogteramp in die westelike dele van die Oos-Kaap het vuisvoos boere op hul knieë. Nieteenstaande volgehoue oproepe aan die Oos-Kaapse premier, Oscar Mabuyane, om hierdie dele ʼn ramptoestand te verklaar, weier die Oos-Kaapse provinsiale regering om bystand aan boere te verleen.

Retief Odendaal, die DA se skadu-LUR vir landelike ontwikkeling, het gesê ʼn bekwame staat sou belê in droogtebeheer- en wateraanvullingsmaatreëls om ‘n ekonomiese sektor te ondersteun wat een van die grootste bydraers tot werkskepping en die provinsiale Bruto Binnelandse Produk is.

“Die Demokratiese Alliansie het nou die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, genader vir dringende ingryping,” het Odendaal gesê. “Boere in veral die sentraal tot westelike dele van die provinsie moet al vir jare hul kuddes voer, omdat die droogtetoestand plase in hierdie distrikte se drakrag erg verminder het. Die langdurige voer van lewende hawe plaas boere onder geweldige finansiële druk en is nie volhoubaar nie.”

Ten spyte hiervan het die provinsiale regering net twee keer voer aan sommige boere beskikbaar gestel. Die verligting wat verskaf is, was skaars genoeg om bestaande kuddes vir ‘n paar weke te onderhou, en daar was ernstige vrae oor die kwaliteit, hoeveelheid en verspreiding van die ondersteuning gevra.

Aantygings van ondergewig bale, prysknoeiery en herleiding van voer na boere in gebiede wat nie so erg geraak is nie, word nog ondersoek.

Boere in veral die Sarah Baartman-distrik ervaar ook ʼn erge watertekort, omdat boorgate in sekere dele begin opdroog. ʼn Versoekskrif van boere aan die Oos-Kaapse departement van landelike ontwikkeling en grondhervorming om bystand met die boor van boorgate einde verlede jaar, het ook op dowe ore geval.

Sitrus- en groenteboere in die Gamtoosvallei word deur ʼn algehele ramp in die gesig gestaar omdat hul watertoekenning deur die departement van waterwese met sowat 80% gesny is. “Die boere is afhanklik van water uit die Kouga-dam, een van die grootste opgaardamme in die Oos-Kaap, wat tans op net sowat 6,3% van totale kapasiteit staan,” het Odendaal bygevoeg. Die Kouga-dam is ook een van Nelson Mandelabaai se vernaamste opgaardamme.

Die DA het die premier al telkemale versoek om ʼn droogteramptoestand in die provinsie te verklaar. Dit sal die Oos-Kaap in staat stel om vir noodbefondsing vanaf die nasionale regering in aanmerking te kom.

“Terwyl sommige boere daadwerklik bystand met die voer van hul kuddes benodig, is bystand met hidrologiedienste meer noodsaaklik vir ander. Daar word gehoop dat minister Didiza nou met haar provinsiale eweknie in kontak sal tree, sodat sy haar kan vergewis van die omvang van die krisis. Die Demokratiese Alliansie het die minister ook persoonlik genooi om self by droogtegeteisterde gebiede in die provinsie besoek af te lê.”

Die DA sal aanhou om druk op die Oos-Kaapse Provinsiale regering te plaas totdat dit die verantwoordelikheid opneem om boere in hul tyd van nood by te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nie Verbaas ·

Die DA is optimisties om hulp van die ANC se selfgesetreerde regeringsamptenare hulp te verwag.

Adri ·

Die regering wil boere van die plase af kry, hoekom sal hy aan hulle hulp verleen?

Mariana ·

Nee hulle sal nie help nie, boere moet uit. Skandelik hoe sommiges gehelp word en ander nie. Wat moet die kriteria wees vir hulle om gehelp te word. Maar ja naamsveranderinge mos belangriker as mense se welstand. Die ANC moet gaan. Hulle het nou al genoeg skade aangerig. Die sogenaamde ministers is die ergste. Onbekwaam.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.