Thomas Ferreira sal nie verder herstel, hoor hof

Thomas Ferreira voor die ongeluk

Thomas Ferreira voor die ongeluk

Thomas Ferreira sal nie verder herstel na die ongeluk waarin Joseph Motsamai Semitjie hom met ʼn blouligmotor omgery het nie, het die Krugersdorp-landdroshof Maandag gehoor.

“Daar sal geen verdere betekenisvolle herstel plaasvind nie. Kliniese ervaring en neurologiese literatuur wys daarop dat die brein slegs ‘n beperkte tyd het om te herstel,” het dr. Desmond Shamley, ʼn neuroloog, getuig.

“Meeste van die herstel vind in die eerste ses maande plaas. Geen beduidende herstel vind na twee jaar plaas nie. Jy bereik ʼn plato van herstel,” het Shamley gesê.

Semitjie is op 3 Desember daaraan skuldig bevind dat hy Ferreira van sy motorfiets af gery het. Hy het in November 2011 die ampsmotor van Humphrey Mmemezi, destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, bestuur en glo ʼn rooi verkeerslig verontagsaam toe hy Ferreira (toe 18 jaar oud) se motorfiets getref het.

Semitjie tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Semitjie tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Shamley het getuig dat hy Ferreira al vyf keer sedert die ongeluk ondersoek het. Volgens Shamley sal Ferreira sukkel om ʼn werk te kry of om op sy eie te bly. “Ek was in gesprek met sy ma oor die moontlikheid om hom by ’n beskermde werkplek te laat aansluit.”

Shamley het gesê dit is moeilik om te voorspel of Ferreira in ʼn verhouding sal kan wees. “Dis moeilik om te antwoord want hy is impulsief en buierig. Die vraag is of ʼn meisie in staat sal wees om hom te hanteer? Hy mag dalk ʼn meisie kry, maar dit sal nie dalk nie vir lank wees nie.”

Hy het bygevoeg dat Ferreira se verstandelike vermoë agteruitgegaan het ná die ongeluk. Hy het gesê Ferreira het tuisonderrig ontvang, maar dat hy nie die mas opkom nie.

Landdros Abdul Khan het die saak tot 20 November uitgestel om die staat die geleentheid tee gee om ʼn sielkundige te roep om te getuig. Staatsaanklaer Micky Thesner het versoek dat die saak tot volgende Donderdag uitgestel word maar Semitjie se regsverteenwoordiger het aangedui dat hy eers in November weer beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

alet ·

Die kind se hele lewe is verwoes deur bloulig ryers die paaie is mos net vir hulle ruk hulle die staat het baie geld.vra die bedrag gelyk an die bou vd kernkrag stasies.0f die bedrag wat Zuma se kraal kos sterkte vir jou.Die Here sal voorsien

DOuglas ·

Ek dink die ergste van die hele saak is dat die ou wat die ongeluk veroorsaak het, moontlik ‘n boete sal kry en niks meer nie. Ek is dood seker hy verontagsaam nogsteeds rooi verkeers ligte(soos 50% van die mense in ons land) en gaan voort met sy lewe want hy weet niks gaan met hom gebeur nie.

Johan ·

Daar wys jy die problem uit DOuglas – “(soos 50% van die mense in ons land)”. Daar’s baie “mini-me Zumas” wat in Suid Afrika rondloop.

Justin ·

Hierdie jongman se hele lewe is verwoes deur ‘n ongehoorsame, astrante regeringsamptenaar en bestuurder. Hy behoort alle mediese uitgawes te dek en X-bedrag betaal aan die ouers om Thomas behulpsaam te wees met toekomstige mediese uitgawes ens.

Elizabeth ·

Baie erg en voel baie jammer vir die seun. Hier moet ‘n voorbeeld gemaak word van die skuldige – as ek net na sy arrogante gesig op die foto kyk wil ek skree. Wat gaan gebeur as die suen se ouers tot sterwe kom – wie gaan na hom omsien? Die staatsinstellings is deesdae so swak – daar was ‘n tyd gelede ‘n berig in die Krugersdorp News dat ‘n verslag uitgewys het Sterkfontein Hospitaal (byvoorbeeld) een van DIE gevaarlikste hospitale in die land is – pasiënte word verkrag deur personeel, aangerand ens. Hoe dit by dergelike instellings gaan kan ek net raai. Dan is so-iets dalk sy voorland? NEE! Hy moet genoeg vergoed word sodat hy met hulp van bv ‘n omsiener gerieflik die res van sy lewe kan wees.

Leeutjie ·

Met die mediese verslae van ‘n verskeidenheid Dokters en kundiges in plek het Thomas ‘n goeie saak om genoegsaam deur die Padongelukke fonds vergoed te word. Dit vergoed nie vir sy lewenskwaliteit nie, maar daar word vir sy vooruitsigte bepalings gemaak en potensiaal wat hy sou he as hy nie in die ongeluk was nie. Thomas behoort goeie vergoeding te kry en daar sal gekyk word na sy toekoms, versorging en meriete bepalings word tot in detail gedoen. Geld kan ongelukkig nie gesondheid koop nie, maar behoort verligting te bring.

Hannelie ·

Weereens hy gaan vry wees, en dan gaan Thomas nie “vry” wees nie, hy sal altyd die letsels dra. Dis mos maar hoe ons nuwe SA werk, pleeg moorde en jy is vry. Baie polisie, sekuriteits ampsdraers, dink as hul hul blouligte aanskakel dan het hulle die “reg” om te maak wat hul doen. Ek het eenkeer ‘n polisievangwa agtervolg wat met blouligte aangejaag kom, ons was baie naby aan ‘n Spar. Hy het afgedraai en doodluiters uitgeklim en ‘n “pie” gaan koop. Hallo !!! Dis die voorbeeld wat vir ons land gestel word. Ek dink aan Thomas en aan sy gesin. Mag Jesus jul hierdeur dra en mag geregtigheid geskied!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.