Thomas Ferreira: Staat vra tronkstraf vir blouligbestuurder

Semitjie tydens 'n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Semitjie tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Werner Beukes / SAPA

Die blouligbestuurder wat Thomas Ferreira in November 2011 van sy motorfiets af gery het, moet nie net oor die vingers getik word nie maar tronk toe gestuur word, het die Krugersdorp-landdroshof gehoor.

“Die laaste ding wat die land nodig het is dat die beskuldigde net oor die vingers getik word,” het staatsaanklaer Micky Thesna Donderdag in die Krugersdorp-landdroshof aangevoer tydens die vonnisopleggingsprosedure van Joseph Motsamai Semitjie.

Thesna het aangevoer dat die padreëls in gelyke mate op almal van toepassing moet wees. “Die hof het die unieke geleentheid om sy fokus te skuif na die enigste ware BBP wat daardie dag op die pad was, en dit was Thomas Ferreira.”

Thomas Mohlobogoane, Semitjie se regsverteenwoordiger, het versoek dat sy kliënt tot korrektiewe toesig en ʼn boete gevonnis word. “Dit is my voorlegging dat die voorgestelde vonnis heeltemal onvanpas is,” het Thesna egter aangevoer.

Thomas Ferreira voor die ongeluk

Thomas Ferreira voor die ongeluk

Ferreira se ouers het in die tweede ry van die openbare galery gesit. Sy ma het met haar hande in haar skoot gesit terwyl sy pa af en toe sy arm om haar skouers gesit het.

Thesna het voorgestel dat Semitjie tot tronkstraf gevonnis word. Sy het gesê die kultuur en ingesteldheid op Suid-Afrikaanse paaie moet verander. “Die beskuldigde het duidelik roekeloos opgetree. Die beskuldigde was in die diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens wat spesifiek daar is om die gemeenskap te dien en te beskerm en wat hy gedoen het, was presies die teenoorgestelde.”

Volgens Thesna het Semitjie nie berou vir sy dade getoon nie en was hy meer bekommerd oor die skade aan sy motor as die leed wat hy ʼn mens aangedoen het.

Semitjie het in November 2011 die ampsmotor van Humphrey Mmemezi, destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, bestuur en ʼn rooi verkeerslig verontagsaam toe hy Ferreira (toe 18 jaar oud) se motorfiets getref het.

Vonnisverrigtinge sal op 28 Januarie voortgaan.

Klik hier om vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Nicolette ·

Ja somner lewenslank tronk toe, n belowende jongman se toekoms is verwoes deur n swaap wat nie gestop het nie

SJ Botha ·

Ek dink tronkstraf moet ook harde hande arbeid insluit vir die poepol.

pieter ·

Wat help dit om net die bestuurder van die motor te vervolg,die amtenaar wat sulke brutaalde bestuurs gedrag toelaat ,moet net so streng vevolg word.

Christo ·

Ek stem. Die beskuldigde moet verantwoordelikheid neem vir sy dade. So eenvoudig soos dit.

Nina ·

Dit maak my NAAR dat die blikskottel ook duidelik erg arrogant lyk op die foto bo; so asof hy weet hy gaan wegkom! Magtig! Daai kind se lewe en sy ouers s’n, is totaal omver gegooi. NIKS gaan dit ooit herstel nie. Dit maak my woedend.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.