Thomas se ouers: “Ons lewens is vernietig”

Paul Ferreira, Thomas se pa, en ander familielede tydens Woensdag se vonnisverrigtinge. Foto: Werner Beukes/SAPA

Paul Ferreira, Thomas se pa, en ander familielede tydens Woensdag se vonnisverrigtinge. Foto: Werner Beukes/SAPA

Thomas Ferreira, wat in November 2011 deur ʼn blouligbestuurder van sy motorfiets af gery is, se ouers het gesê hulle is verlig dat die saak verby is, nadat die bestuurder Woensdag gevonnis is.

“Ons lewens is vernietig en niks gaan verander wat gebeur het nie. Ons is verlig dat dit verby is en dat ons nie meer hof toe hoef te kom nie,” het Priscilla Ferreira, Thomas se ma, buite die Krugersdorp-landdroshof gesê. Thomas se pa, Paul, was aan haar sy.

Landdros Abdul Khan het die bestuurder, Motsamai Semitjie, Woensdag tot effektiewelik vyf jaar tronkstraf gevonnis. Semitjie is op die eerste klag van roekelose of nalatige bestuur tot vier jaar tronkstraf gevonnis. Die helfte van dié vonnis is vir vier jaar opgeskort. Hy is op die ander twee aanklagte, wat verband hou met sy versuim om op die ongelukstoneel stil te hou en hulp te verskaf, tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

“Jy het ʼn besige kruising binnegegaan sonder om seker te maak dit is veilig… jy het die lewens van ander in gevaar gestel en ʼn jong man se lewe is vernietig. Soos die staatsaanklaer gesê het, jong Ferreira se lewe het daardie dag tot ʼn einde gekom.”

Semitjie is op 3 Desember 2013 daaraan skuldig bevind dat hy Ferreira van sy motorfiets af gery het. Hy het in November 2011 die ampsmotor van Humphrey Mmemezi, destydse Gautengse LUR vir plaaslike regering en behuising, bestuur en glo ʼn rooi verkeerslig verontagsaam toe hy Ferreira (toe 18 jaar oud) se motorfiets getref het.

Klik hier vir alle vorige berigte oor die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.