Thulsie-tweeling kan eers dan borgtog vra

Foto: Lindi Masinga/ANA

Foto: Lindi Masinga/ANA

Brandon-Lee en Tony-Lee Thulsie, die sogenaamde terreur-tweeling, is al amper twee maande in aanhouding en sal nou nog langer moet wag voordat hul borgtogaansoek kan voortgaan.

Die tweeling het Donderdag in die Johannesburgse landdroshof verskyn en hul borgtogaansoek is tot 11 Oktober uitgestel. Die twee het aanvanklik nie vir borgtog aansoek gedoen nie en eerder versoek dat hul inhegtenisneming as onregmatig verklaar word.

Adv. Annelene van den Heever, die 23-jariges se regsverteenwoordiger, het aangevoer die tweeling is onregmatig in hegtenis geneem nadat die polisie erken het hulle het nie ʼn lasbrief vir inhegtenisneming gehad nie.

Landdros Pieter du Plessis het egter beslis die inhegtenisneming was regmatig en hulle word wettig aangehou. Van den Heever het toe die hooggeregshof genader om dié beslissing uit te daag.

Du Plessis het Donderdag aan Van den Heever gesê hy is ingelig oor die aansoek by die hooggeregshof oor die wettigheid van die soeklasbrief.

Staatsaanklaer Chris MacAdam het aan die hof gesê die tweeling het op 19 Augustus ʼn aansoek voor die hooggeregshof gebring om Du Plessis se beslissing, dat hulle inhegtenisname regmatig was, uit te daag.

Die aansoek is egter van die rol geskrap, aangesien dit as ʼn hersiening deur twee regters aangehoor moet word. “Van die transkripsies is nog uitstaande en hulle wil eers die hersiening laat aanhoor voordat hulle met hul borgtogaansoek voortgaan.”

Volgens MacAdam het die staat en die verdediging ooreengekom dat die saak uitgestel word. Van den Heever het versoek dat alle ondersoeke so gou moontlik afgehandel word, aangesien die tweeling reeds ʼn geruime tyd agter tralies is. Hulle bly in aanhouding.

Die tweeling, wat begin verlede maand in hegtenis geneem is, word daarvan beskuldig dat hulle terreuraanvalle by die Amerikaanse ambassade en Joodse instellings in Suid-Afrika beplan het.

Lees alle vorige berigte oor die Thulsie-tweeling op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Ekwilibrium ·

Word hulle vrygelaat, gaan hulle dalk binnekort voort met bose planne; bly hul in aanhouding, word hulle net meer verbitterd en simbole van ‘martyrdom’ onder terreurgroepe. Moeilike een; die ouers moet nasionaal op TV verskyn en verduidelik wat hier aangaan.

Kiepie ·

Ekwilibrium, waarom voel jy die ouers is die land ‘n openbare verduideliking verskuldig? Mis ek iets?

Ekwilibrium ·

Want kinders wat uit normale, liefdevolle huise kom Sal NIE terrorisme of enige ander moord as ‘n eerbare roeping beskou nie. Tien teen een het die ouers niks met terrorisme Te doen nie, maar hier is beslis huishoudelike probleme ter sprake.

Janneman ·

Tipies van ‘n “polities-korrek & liberale” wêreldbeskouing waar terroriste & ander misdadigers gesien word as die “onskuldige bloedjies” in die land, en gevolglik meer regte het as gehoorsame landsburgers & die waarlik onskuldige slagoffers van misdaad & terreur.

Manna ·

Borgtog moet nie eers ‘n oorweging wees. Hulle hoort in tronk

Karma ·

Hou die twee terroriste daar, want vir die oomblik is ons land veilig. Die oomblik wat hul uit is op borgtog, is hulle woerts! land-uit om by ISIS te gaan aansluit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.