Ticketpro Dome in Gauteng sluit sy deure

Ticketpro Dome (Foto: Ticketpro Dome/Twitter)

Suid-Afrika se grootste veeldoelige binnenshuise arena, die Ticketpro Dome, sluit ná 20 jaar sy deure.

Die Ticketpro Dome, oorspronklik bekend as die MTN Sundome, het op 8 April 1998 sy deure oopgemaak met ʼn konsert deur Diana Ross voor ʼn skare van 15 000. Intussen het die arena ook as The Dome at Northgate en die Coca-Cola Dome bekendgestaan voor die naam na die Ticketpro Dome verander is. Van die bekende kunstenaars wat al hier opgetree het is Pink, Lionel Richie, Celine Dion, Michael Buble, Avril Lavigne, Westlife, Mariah Carey en Katy Perry. Plaaslike kunstenaars soos Prime Circle, The Parlotones, Lira en die Soweto Gospel Choir het ook al hier opgetree.

Verskeie uitstallings en handelsmarkte soos die Homemakers Fair, Mama Magic Baby Show, Fire and Feast Food Festival, Mediatech Africa en Africa Automation Technology Fair is gereeld by die arena gehou.

Die WWE International en Disney on Ice was ook by die Ticketpro Dome te sien.

RX Venue Management het Maandag in ʼn verklaring gesê hy kondig met ʼn swaar hart aan dat die fasiliteit deur die eienaars, die Sasol-pensioenfonds, aan ʼn derdeparty verkoop is wat nie bedrywig is in die geleentheidsbedryf nie.

Argieffoto van die Ticketpro Dome (6 Augustus 2005) (Foto: Wariner via Wikimedia Commons)

“Dit is nóg ʼn verpletterende slag vir die uitstalling-, geleentheid- en vermaaklikheidsbedryf weens Covid-19. Die verbod op openbare byeenkomste het beteken dat die Ticketpro Dome tussen 2020 en nou in 2021 nie bedrywig kon wees nie,” sê Carol Weaving, besturende direkteur van RX Africa. “Die verkope van die Ticketpro Dome is ʼn groot teleurstelling en baie hartseer vir ons bedryf. Dit was die tuiste van verskeie internasionale konserte en geleenthede in Suid-Afrika en sal ongetwyfeld ʼn groot leemte laat. Ongelukkig is ons slegs die besturende maatskappy. Ons kan nie die besluit van die Sasol-pensioenfonds verander om die arena te verkoop weens force majeure nie.”

Die gebou sal amptelik op 7 September 2021 aan die nuwe eienaars oorhandig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Pieter ·

Baie plekke gaan nog hulle deure sluit in die anc kommunistiese land.

Barney ·

O, ek dog die deure sluit weens die impak van Covid. Wat het die ANC nou weer gedoen?

Eclectus ·

Het Deep Purple en Rammstein hier gesien maar die Dome is ‘n baie swak konsert lokaal want die verhoog is te laag vir die grootte, so as jy nie in die “golden circle” is nie is die ervaring nie goed nie. Vir uitstallings is dit perfek.

Kokerboom ·

Die nagevolge van die ekonomiese impak van Covid gaan nog vir jare met ons en in wereld wees. Uitdagende tye lê voor wat ernstige herbeplanning en sieningsverandering gaan verg. Dan praat ek nie eers van die addisionele effek van ANC se roekelose beleide en vernietigende idees. Lewe soos ons hom ken gaan NOOIT weer dieselfde wees!

Eugene ·

Ek deel die leed oor nog’n baken wat nie meer sal wees nie. Ek is egter oortuig die verkope sal nie ‘n “leegte” laat nie,maar’n “leemte”.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.