Die departement van justisie en korrektiewe dienste sê hy sal ondersoek instel na die ongeluk waarin Reinach Tiedt, een van die sogenaamde Waterkloof-vier, betrokke was en afhangende van die bevindinge kan dit moontlik lei tot die opskorting van sy parool.
Zacharia Modise, die departement se streekskommissaris in Gauteng, het bevestig dat Tiedt in ‘n ongeluk betrokke was.
Maroela Media het gister berig oor die ongeluk wat Dinsdag in Moreletapark in die ooste van Pretoria plaasgevind het. Ao. Dave Miller, woordvoerder van die polisie, sê die ongeluk het op die hoek van Rubensteinrylaan en Peddiestraat plaasgevind.
Tiedt is in die ongeluk beseer en ‘n private hospitaal geneem vir behandeling. Die bestuurder van die ander motor, Colette Lippold, het haar twee seuns by Laerskool Constantiapark gaan haal en was op pad huis toe toe die ongeluk gebeur het. Lippold het verskeie beserings opgedoen waaronder gebreekte ribbes, ’n geskeurde ligament en beserings aan haar lewer. Sy word in die hoësorgeenheid van die Kloof-hospitaal in Pretoria-Oos behandel. Lippold se twee seuns is nie ernstig beseer in die ongeluk nie en het vandag teruggekeer skool toe.
Beeld haal ‘n ooggetuie aan wat beweer dat Tiedt glo beheer verloor het oor sy voertuig voor dit teen die ander motor gebots het. Beeld het ook foto’s gepubliseer, wat glo deur ‘n ooggetuie op die toneel geneem is, van blikkies drank wat glo uit Tiedt se voertuig geval het. Volgens die berig was van die blikkies leeg en ander vol.
Miller sê intussen daar is niks in die dossier wat beweer dat Tiedt onder die invloed van alkohol bestuur het nie en het ‘n beroep op mense gedoen om nie aannames te maak nie. Tiedt is nie in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek wel ‘n saak van roekelose en nalatige bestuur.
Manelisi Wolela, woordvoerder van die departement van justisie en korrektiewe dienste, sê hulle is Donderdagaand van die ongeluk in kennis gestel. “Volgens ons beleid rakende die bestuur van diegene op parool sal amptenare die verslae van onder andere die polisie en die hospitaal ondersoek en ‘n verslag saamstel en by die departement inhandig.”
Wolela sê afhangende van die bevindinge kan die verslag by die paroolraad ingedien word vir oorweging en ‘n besluit. Volgens Tiedt se paroolvoorwaardes mag hy nie ‘n misdryf pleeg of alkohol of dwelmmiddels misbruik nie.
Christoff Becker, Frikkie du Preez, Gert van Schalkwyk en Tiedt is in Februarie op parool vrygelaat. Becker en Du Preez is kort hierna weer in hegtenis geneem na ‘n video wat glo wys hoe hulle partytjie hou in die tronk, aan die lig gekom het.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
As ‘n man nie wil hoor nie moet hy maar voel.
n Dik vel, neem soms lank om gebrei te word…
Wat het die ongeluk met sy parool te doen kry rigting asb .julle is pateties verlekker jou in iets anders
Ek hoop hierdie mamma sal ten volle herstel.
As jy op Parool vrygelaat word beteken dit nie jy is heeltemal vry nie. Jy is net nie agter tralies nie Jy moet nogsteeds aan sekere reels gehoorsaam bly van KD se Paroolraad. So jy kan nie mal gaan nie. Jy moet in jou spoor trap en by die reels hou anders is dit terug trunk toe. En een van die reels is GEEN DRANK. Kyk maar wat kom uit die ondersoek mense. Ontspan net. Bid liewer dat die vrou volkome herstel.