Tien eindelik vas oor koperkabeldiefstal

Argieffoto

’n Tweejaarlange operasie deur die Valke het eindelik vrugte afgewerp toe tien verdagtes in ’n koperkabeldiefstal-saak in hegtenis geneem is.

Kas Pretorius (50), Boston Mthethwa (33), Frederick Harold Outram (35), Taron Petzer (21), Monica Mbinka (31), Nicolaas Jacob Swart (50), Salom William Madonsela (25) Jaco Redelinghuis (35), Jaco Redelinghuis jr. (19) and Marlene Esterhuizen (30) is Maandag in verskillende dele van die land in hegtenis geneem.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, sê beamptes het twee jaar lank na die verdagtes gesoek as deel van ʼn operasie om koperkabeldiefstal hok te slaan.

Die projek het gefokus op die onwettige verkoop van gesteelde koperkabels wat by myne, kragstasies sowel as private of staatsbeheerde eiendomme spesifiek in Mpumalanga en Gauteng gesteel word. Die geteikende gebiede sluit Kriel, Ogies, Blinkpan, Tsakane asook gebiede naby Hendrina in.

Die gesteelde koperkabels is gevolglik teen die hoogste prys aan herwinningsmaatskappye verkoop.

’n Geïntegreerde span van die Valke het Maandag, soos afgespreek, die verdagtes op verskeie dorpe in Mpumalanga en Gauteng in hegtenis geneem. Die span het gedurende dié klopjag ook op koperkabels ter waarde van meer as R600 000, weegskale asook ’n aansienlike bedrag geld beslag gelê.

Al tien verdagtes het Dinsdag vlugtig in die onderskeie dorpe se howe verskyn en is gevolglik borgtog van tussen R1 000 en R5 000 elk toegestaan. Die verdagtes sal na verwagting weer tussen 4 Januarie en 8 Februarie volgende jaar op aanklagte van koperdiefstal in die onderskeie howe verskyn.

Zodwa Mokoena, hoof van die Valke in Mpumalanga, het die gesamentlike optrede as ’n groot sukses in die stryd teen koperkabeldiefstal in die land beskryf. “Dié projek skep hoop vir myne en kragstasies dat owerhede toegewyd is om koperkabeldiewe vas te trek. Ons sal voortgaan om saam met ons vennote en regeringsdepartemente te werk in die uitvoering van ons mandaat om diegene wat agter dié ernstige misdaad sit, vas te trek,” het Mokoena gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lientjie ·

Dis nie ‘n groot sukses nie, want hulle het borg gekry en dan nog belaglike bedrae ook. Ek glo is alweer sterk aan die gang met die kopediefstal.

Andre ·

Hou ons net asb. op hoogte van uitslag van saak. Wanneer dit ookal afgehandel is.

christa ·

hoekom borg gee? laat hulle liewer harde ardeid doen. laat hulle gaan pikkap of slote grawe oor Kersfees en nuwejaar.

SjN ·

Kabeldiefstal is dieselfde as moord en moet ook so hanteer word, hou die herwinnings ondernemings/ kopers ook verantwoordelik, solank daar n afsetgebied is gaan dit nie stop nie. Hoekom borg en n druppel in die emmer teenoor R600 000 se kabels wat in hul besit gekry is, wat van die vorige gevalle, hulle gaan presies voort met hul bedryf, hoop daar word van hul n voorbeeld gemaak. Sal MM ons asb op hoogte hou asb.

GM ·

Die waarde van die kabels is R600 000, maar borgtog is so min. Waar is die vorige transaksies se geld weggesteek?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.