Tien familielede saam in hof oor bedrogklagte

(Foto: Apostle Deza/X)

Tien familielede het Woensdag in die Nelspruit-landdroshof op aanklagte van bedrog, diefstal en geldwassery verskyn nadat die Valke se eenheid vir ernstige kommersiële misdaad hul sake weer op die hofrol geplaas het.

Ao. Thandi Tshabalala, woordvoerder vir die Valke, sê Carol Ann Avent (51), Ian John Avent (57), Lucy Andrea du Preez (54), Maria Antoinette le Roux (53), Kerry Ann Avent (36), Jaco Meintjies (48) Pieter Albertus Meintjies (40), Annechelay Charlene Meintjies (28), Dina Petro du Preez (33) en Maritz Vernon du Preez (27) het die hofsaal byna volgestaan tydens hul verskyning vandeesweek.

Luidens die klagstaat is die hoofbeskuldigde, Carol Ann Avent, in 2016 as finansiële administrateur by Trans Collection BK in Nelspruit aangestel.

“Haar pligte was om betalings aan die voorsorgfondse te doen, asook om betalings aan die maatskappy se krediteure te doen. Om daardie rede is ʼn unieke wagwoord aan haar gegee om betalings vir die maatskappy se krediteure te kan verwerk,” sê Tshabalala.

Die beskuldigde het glo eerder as om betalings aan die krediteure te doen, groot oorplasings vanaf die maatskappy se Nedbank-sakerekening na haar familielede se persoonlike bankrekeninge begin doen. Sy het die maatskappy só glo uit altesame R11,5 miljoen geswendel.

Tshabalala sê die ondersoek is gedoen en in 2019 afgehandel, waarna Avent en haar familielede aangekeer is.

“Die saak is na die gespesialiseerde handelsmisdaadhof oorgeplaas en vir verhoor uitgestel, maar die sake is voorlopig teruggetrek weens uitstaande administratiewe kwessies.

“Die sake is egter Woensdag weer op die hofrol geplaas.”

Die groep het Woensdag verskyn en die saak is tot April vir die moontlike inhegtenisnemings van nog moontlike verdagtes uitgestel. Die saak moet ook nog formeel na die handelshof oorgeplaas word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

skurweberg ·

Julle behoort van. beter te weet. Nou praat hulle Afrikaans ook.

Janine ·

Skandelik dat ons eie mense na die korrupte regering se vlakke daal! Ek skaam my morsdood!

louis ·

Ek wens die Valke wil ook so gou spring om die ANC se korupte ampdraers aan te kle

Delia ·

Nee Louis, hou maar die politiek hier uit. Hierdie saak kom al n paar jaar aan. As jy skelm is, is jy skelm.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.