Ses mense is Woensdag in hegtenis geneem op aanklag van mensehandel nadat tien beweerde slagoffers uit hul kloue gered is.
Kapt. S’fiso Nyakane, woordvoerder van die Valke, het gesê die voorval het in Welkom in die Vrystaat plaasgevind.
Nyakane het gesê lede van die plaaslike polisie, Odendaalsrus-speurders en die Valke se eenheid vir ernstige georganiseerde misdade het ’n wenk van Interpol opgevolg oor ’n slagoffer wat glo van ’n nedersetting in Lesotho afkomstig is en teen haar wil op ’n plaas in die Odendaalsrus-omgewing aangehou word.
“Toe die beamptes by die toneel opdaag, is ses slagoffers aangetref en gered. ’n Veiligheidswag en plaasbestuurder is op die toneel in hegtenis geneem,” het Nyakane gesê.
Voorlopige ondersoeke het die span na die Khune-nedersetting in Welkom gelei waar twee vroueverdagtes, wat glo werwers vir die mensehandelaars was, vasgetrek is.
“Nog twee verdagtes, ’n ontvangsklerk en ’n veiligheidswag, is by ’n lodge in hegtenis geneem. Die lodge is glo as ’n bordeel gebruik. Vier slagoffers is uit dié bordeel in Welkom gered,” het Nyakane gesê.
Volgens Nyakane is sewe van die slagoffers, vier vroue en drie mans, van Lesotho en drie ander vroue is van Bloemfontein.
Die slagoffers word tans in ’n plek van veiligheid gehou.
Die verdagtes, tussen 21 en 68 jaar oud, sal Vrydag in die Bloemfontein-landdroshof verskyn op aanklagte van mensehandel.
Nyakane het gesê die polisie se ondersoek duur voort en nog inhegtenisnemings kan volg.
Interpol weet daarvan maar nie die polisie in suid afrika nie, wys jou wie doen hulle werk en wie nie.
Sal graag wil weet wie en wat is die oortreders. Is hulle “locals” of nie.