Tien jaagduiwels binne paar uur vasgetrek

Argieffoto

Nege motoriste en ʼn motorfietsbestuurder is Sondag tussen 05:00 en 10:00 deur beamptes van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD) in hegtenis geneem nadat hulle die spoedgrens aansienlik oorskry het.

Sewe van hierdie inhegtenisnemings het naby die Olifantsfontein-afrit op die R21 gebeur.

Hoofsupt. Wilfred Kgasago, woordvoerder van die Ekurhuleni-metropolisie (EMPD), het gesê een van dié motoriste is ook op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem nadat daar bevind is dat hy bo die wettige bloedalkoholvlak was toe hy teen 185 km/h gejaag het. Die 33-jarige man het in ʼn Honda-sedanmotor gery.

Die grootste jaagduiwel is vasgetrek nadat hy 233 km/h gery het. ʼn 50-jarige man is om 08:35 in hegtenis geneem nadat hy 200 km/h in ʼn Lexus-sedanmotor gery het. Hy kon geen rede aanvoer hoekom hy nie by die spoedbeperking van 120 km/h gehou het nie.

Die res van die motoriste is op die R21 in hegtenis geneem nadat hulle tussen 177 km/h en 183 km/h gery het. Een van hulle was ʼn vroulike bestuurder in ʼn Mercedes Benz-motor.

“Al die mense wat hier in hegtenis geneem is, is by die Tembisa-polisiestasie van roekelose en nalatige bestuur aangekla. Hulle is almal op borgtog van R1 500 elk vrygelaat en sal Maandag in die Tembisa-landdroshof verskyn,” het Kgasago gesê.

Intussen is nog drie bestuurders tussen 05:00 en 10:00 op die N3-Suid naby die Geldenhuys-wisselaar in hegtenis geneem.

Volgens Kgasago is ʼn 23-jarige man, wat twee passasiers saam met hom in die voertuig gehad het, in hegtenis geneem nadat hy 165 km/h gery het. Die man het aan EMPD-beamptes gesê hy het gejaag omdat hy op pad was om sy diabetes-medikasie te kry.

ʼn 36-jarige man in ʼn BMW-motor is ook in hegtenis geneem nadat hy 165 km/h gery het. Hy het aangevoer hy is laat vir ʼn troue.

Die derde motoris wat op die N3 in hegtenis geneem is, was ʼn man in ʼn Mercedes Benz-motor wat teen 226 km/h gejaag het. Hy het aangevoer hy jaag omdat hy laat is om by die huis te kom.

Hierdie drie motoriste is ook op borgtog van R1 500 elk vrygelaat en sal Maandag in die Germiston-landdroshof verskyn.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

PJC ·

Ek het geen simpatie met hierdie ouens nie. Mense wil dit nie erken nie maar spoed is een van die groot oorsake van ongelukke. Die stadiger motoriste op die pad misreken hulle geheel en al met hierdie vinnige ouens wat tot ernstige ongelukke ly.

Simpatie ·

Ek het simpatie met die ou wat laat was oppad huis toe want ek wonder wat sy verskoning sou wees aan sy vrou? Nou kan hy darem ‘n hofdagvaardiging wys wat meer aanvaarbaar is as enige ander verskoning. Ai toggie . . .

Niel ·

Suid Afrika het ‘n autobahn nodig soos in Europa waar daar geen spoedgrense is. Ter nagedagte, ek bly by my spoedgrense en ry nou nie vinniger as wat ek mag nie. Maar ja – gelang van hoe die pad lyk en hoe oop dit is wil mens soms die lepel so bietjie wegtrap.

johan II ·

100% Niel. Ons motors is veilig teen hoë spoed op n goed ontwerpte pad….motorfietse behoord 160km/h te mag ry. Dit is baie gevaarlik as almal op jou agterent ry omdat jy by die spoedgrens probeer hou.

Johann Marx ·

Trek asseblief ook bietjie die PUTCO busse af wat tussen 14de laan en William Nicolweg soms vinniger as 140km/u ry met ‘n vrag vol mense!!….en dan partykeer nog sommer in die geel streep ook…

Boertjie ·

Hi Maroela Media, ek wil net onder julle aandag bring dat Mercedes-Benz met ‘n koppelteken gespel word. Loer gerus ook op die vervaardiger se webwerf. Groetnis!

Johan ·

Nee wat kerels, ek is nie bang vir arrestasie nie…… ek ry ‘n diesel Land Cruiser. En ek kom nog steeds by my betemming aan voor die manne wat borg moes betaal.

Wonder ·

Wat het van die minimum spoedgrens geword? Persoonlik opinie: n Motor wat skaars beweeg is vir myself baie meer gevaarlik as iemand wat vinnig ry. Kom ons hou maar by ons spoedgrense, maar bring asb die minimum spoedgrense terug.

Raponsie ·

Ek stem saam Wonder. Die mense wat tussen 80 en 100km per uur ry op die tweede vinigste baan is net so irriterend en baie gevaarlik. Mens kan nie 120 op die vinnigste baan ry nie, want daar is die mense wat tussen 100 en 180 km per uur ry. En op die tweede vinnigste baan word jy gedwing om te kruip tussen 60 en 80 km per uur… Ek praat nie eers van die ander bane wat ook kruip spoed is nie…

marous ·

Potensiele moordenaars . Waarom kry hulle borg ? Hulle betaal boetes uit hul agtersakke . Stuur hulle tronk toe en verklaar hul voertuie verbeurd aan die staat .

Spoedvark ·

Mits omstandighede reg is-is daar nie probleem om vinnig te ry nie. Jy kan teen 30km/h sterf in n motor ongeluk. Vandag se karre is gemaak om veilig teen 160km/h te ry. Die probleem is die ander voertuie wat nie eers 100 in die “overtake” baan ry nie. Bane verander sonder flikker ligte en selfs text en bestuur. Verskoon my spelfoute van n soutie.

Veilig bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.