Tien studente vas ná geweld op Fort Hare-kampus

Die Universiteit van Fort Hare. Foto: Twitter via @SAgovnews

Die Universiteit van Fort Hare. Foto: Twitter via @SAgovnews

Die Universiteit van Fort Hare in die Oos-Kaap het Donderdag gesê tien studente is in hegtenis geneem in verband met geweld en die beskadiging van universiteiteiendom Woensdagaand.

Betogende studente het Woensdag buitebande in die strate en by die hoofhek van die Alice-kampus en ʼn tent aan die brand gesteek. Hulle het ook geboue geplunder en gevandaliseer. Die studente beweer die universiteitbestuur wil nie toegee aan hul eise om ete-toelae aan die studente te gee nie.

Athi Zembe, woordvoerder van die universiteit, het gesê die instansie is in kennis gestel dat tien studente in hegtenis geneem is. “Daar is nie sprake van enige verandering aan ons  eeufeesviering is nie en alles sal volgens plan verloop,” het hy gesê. “Die kwessies word hanteer. Die polisie is gisteraand ontplooi om die situasie onder beheer te bring en die bestuur sal binnekort met die studenteleierskap vergader.”

Die Studenteraad (SR) het Donderdag gesê sy betoging is deur “kriminele elemente” gekaap wat die universiteit se eeufeesviering wil ontwrig. Fort Hare vier Vrydag sy eeufees wat na verwagting deur pres. Jacob Zuma en pres. Robert Mugabe bygewoon sal word.

Die tent waar die viering sou plaasvind is deel van die eiendom wat afgebrand is.

Bulali Rawana, SR-voorsitter, het Donderdag in ʼn televisie-onderhoud gesê die studente wil graag op ʼn vriendskaplike wyse by ʼn oplossing kom sonder om hulle tot geweld te wend. “As die studenteleierskap ondersteun ons hoegenaamd nie die beskadiging van eiendom as ʼn weg tot ʼn oplossing nie. Ons veroordeel dit op die sterkste manier moontlik. Dit mag nooit gebeur nie, dit moes nie gebeur het nie,” het Rawana gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Veritas ·

Toe Hendrik Schoeman die Minister van Vervoer was, het passasiers van SAL gekla oor die kos wat op vlugte aan hulle voorgesit was. Sy reaksie hierop was, ‘Wil julle vlieg of wil julle vreet?” Vir die sogenaamde studente wil ek vra, ‘Wil julle leer of wil julle vreet? Verbeel jou! Die vermetelheid van die onopgevoede verwoesters om ‘n ete-toelaag te EIS, wanneer hulle geen werk daarvoor verrig nie. Ek vrees die dag wanneer dié geslag eendag in die arbeidsmag opgeneem word. Hulle sal dan seker van hul werkgewers verwag om hul salarisse vooruit te betaal.

Wat-ek-lees ·

Breek en verniel is die kultuur. Die grappie van die trein wat aan die brand gesteek word en die volgende dag word daar gewag dat die trein opdaag is van toepassing.
“Die leiers van môre”, wat ‘n rampspoedige toekoms vir SA.

Jcwf ·

Zuma moet ‘n eie vliegtuig kry, maar vir dié mense wat tot die armste studente behoort word skielik gesê dat die geld vir hulle lenings nie daar is nie. Dis hulle enigste hoop op ‘n beter lewe. En nee UFH het in 22 jaar ANC nie beter geword nie. Hulle het daarom in 2015 DASO die meerderheid gegee. En nou kom ‘n klompie radikale brand stig om hulle die skuld daarvan te gee. Hmmm, is daar moontlik ‘n verband?

Maar Zuma en Mvuyo Tom moet oppas. Hulle het ook Mzamane en Mabindisa uitgeskop.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.