Tien vas ure ná Noordwes-transitoroof

‘n Audi-sedan het die transitovoertuig van die pad af gedruk.(Foto: Verskaf)

Tien verdagtes is Maandag in hegtenis geneem ure ná ʼn transitorooftog op die R556 tussen die Keya Rona-winkelsentrum en Majakaneng in Noordwes.

Volgens kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, het ʼn Audi-sedan glo ʼn transitovoertuig van die pad af gedruk. Die verdagtes het na bewering die voertuig se deur oop forseer en geld uitgehaal toe een van die veiligheidswagte hulle gekonfronteer het.

“Dit het in ʼn skietgeveg tussen die verdagtes en die drie veiligheidswagte ontaard, maar geen ernstige beserings is aangemeld nie,” het Muridili gesê.

Die rowers het op die vlug geslaan met ʼn motor wat hulle in die omgewing gekaap het. Maroela Media het vroeër berig dat die man en negejarige seun wie se motor gekaap is, in skok op die toneel aangetref is, maar ongedeerd daarvan afgekom het.

“Die verdagtes het met ʼn onbekende bedrag geld gevlug, asook twee vuurwapens wat hulle van die veiligheidswagte afgeneem het. Die gekaapte motor waarmee hulle gevlug het, is later net na die Mokolokwe-afrit op die R556 Sun City-pad in Bapong, Rustenburg, gevind saam met ʼn wit BMW.”

Polisiebeamptes in Mooinooi het ʼn 72-uur-aktiveringsplan geïmplementeer en alle nodige hulpbronne gemobiliseer om die rowers vas te trek.

Die tien verdagtes is dieselfde dag nog in hegtenis geneem. Polisie het beslag gelê op ʼn Lexus, ʼn Audi, ʼn Volkswagen Caravelle en ʼn Hyundai-minibus. Die verdagtes het glo gemerkte geld in hul besit gehad, asook 12 vuurwapens en ammunisie.

Die verdagtes sal na verwagting binne die volgende twee dae in die Brits-landdroshof verskyn op aanklag van roof met verswarende omstandighede, kaping, die besit van plofstof, die besit van gesteelde geld en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Persheks Adri ·

Nog ongelisensieerde wapens en ook ammunisie. Ek wonder regtig hoeveel van die wapens is daar buite in die hande van kriminele hel dit moet baie wees!

Elizabeth ·

Wel gedaan! Mag al ons polisie dit as voorbeekd neem en weet misdaad betaal nie. Vernietig die vrot appels in die samelewing♥️♥️

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.