Tien vas vir moorde op zama-zamas

(Foto: SA Polisie)

Die polisie het 10 verdagtes in hegtenis geneem in verband met verlede maand se aanval op onwettige mynwerkers wat die lewens van 10 mense geëis het.

Die onwettige mynwerkers is einde Januarie in Matholeville in Roodepoort aangeval. Die slagoffers is met klippe doodgegooi. Nege mense is op die toneel dood, terwyl die tiende slagoffer later aan sy beserings beswyk het.

Volgens kapt. Kay Makhubele, polisiewoordvoerder, het die polisie Woensdag inligting opgevolg en ʼn groep onwettige mynwerkers voorgekeer. Die groep het op polisiebeamptes losgebrand en die beamptes het teruggeskiet.

“Twee verdagtes is geskiet en gewond en agt verdagtes is in hegtenis geneem.” Die twee verdagtes wat geskiet is, is onder polisiebewaking in ʼn hospitaal.

Makhubele het gesê daar is tydens die inhegtenisnemings op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. Die vuurwapens sal vir ballistiese toetse gestuur word om vas te stel of dit in die uitvoer van enige ander misdade gebruik is.

“Daar sal ook ondersoek ingestel word of die verdagtes met nog sake verbind kan word.”

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiewoordvoerder, het die beamptes geloof vir hul harde werk op die verdagtes op te spoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

HBK ·

Biinekort gaan daar aangedring word dat jy jou klippe moet lisensieer.

Scalla ·

HBK, nuwe boemerang in Sa, hy kom as n klip en gaan terug as n rubber koeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.