Tien vissermanne sterf naby Kaapstad

Argieffoto: Dr Berend Maarsingh/NSRI

Argieffoto: Dr Berend Maarsingh/NSRI

Tien vissermanne is dood en drie word vermis nadat hulle Sondagaand in onstuimige seetoestande van ’n vistreiler afgespring het toe dit naby Kaapstad begin water opneem het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Maandag gesê die vistreiler, met 21 bemanningslede aan boord, het omstreeks 18:06 sowat 35 seemyl suidoos van Kaappunt ʼn noodsein uitgestuur.

“ʼn Waarskuwing is uitgestuur aan alle vaartuie wat in die omgewing was om te reageer en verskeie reddingseenhede, waaronder vaartuie en ʼn helikopter, is na die omgewing ontbied,” het Lambinon gesê.

ʼn Vragskip en twee vistreilers was eerste in die gebied en het bevestig dat al 21 bemanningslede die vistreiler waarin hulle was, verlaat het. ’n Soektog is begin na die bemanningslede en die reddingseenhede het spoedig by hulle aangesluit.

“Nege mense is gered en nege liggame uit die see gehaal. Een van die mans wat gered is, het later aan sy beserings beswyk. Ondanks ’n uitgebreide lug- en seesoektog, kon die ander drie bemanningslede nog nie opgespoor word nie. Die soektog duur voort.”

Die oorlewendes is na veiligheid geneem en die liggame is aan die polisie oorhandig. Die polisie se beraders en die maatskappy vir wie die oorledenes gewerk het, staan die oorlewendes en die slagoffers se families by.

Lambinon het gesê ingenieurs is op die beskadigde vistreiler en pogings gaan aangewend word om dit na die hawe in Tafelbaai te neem. Dit is nog nie duidelik hoekom die vaartuig water begin opneem het nie.

Die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek. Die Suid-Afrikaanse owerheid vir maritieme veiligheid (Samsa) gaan die voorval ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

SNEL ·

Vreeslik hartseer wat hier gebeur het. Baie sterkte aan almal betrokke.

Sue ·

Dit hartseer, sterkte aan almal se families. Mag hul vertroosting vind. RIV

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.