Die polisie se nasionale taakspan wat verantwoordelik is vir die ondersoek en inhegtenisneming van diegene wat betrokke is by die moord- en poging tot moordsake by die Universiteit van Fort Hare (UFH) het nog ʼn deurbraak gemaak met die inhegtenisneming van ʼn tiende verdagte.
Maroela Media het vroeër berig vyf verdagtes is vroeër vanjaar in hegtenis geneem in verband met moord en korrupsie. Senior werknemers van die Fort Hare‑universiteit is onder die verdagtes.
Dit volg ná die moorde op Petrus Roets, die instansie se vlootbestuurder, en Mboneli Vesele, die visekanselier prof. Sakhela Buhlungu se lyfwag.
Vesele is in Januarie in ʼn sluipmoordaanval op Buhlungu dood en Roets is in Mei verlede jaar vermoor.
Brig. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, sê Isaac Plaatjies, die universiteit se direkteur verantwoordelik vir ondersoeke en keuring, is verlede week in hegtenis geneem.
Hy het Maandag vlugtig in die Alice-landdroshof verskyn en sal Dinsdag saam met sy nege medebeskuldigdes in dieselfde hof verskyn.
Die polisie het deur die loop van die jaar verskeie mense by dié universiteit in hegtenis geneem. In April vanjaar is vyf verdagtes in hegtenis geneem:
- Bongani Peter, UFH se bedryfshoof, vervoer;
- Wanini Khuza, ʼn afgetrede toesighouer van bestuurders op UFH se Oos-Londen-kampus;
- Sicelo Mbulawa, voormalige SR-lid en sakeman wat ook dienste aan UFH verskaf;
- Mthobisi Khanyile, ʼn gewoontemisdadiger van die Oos-Kaape wat in gesteelde voertuie spesialiseer;
- Mthobisi Dlamini ʼn man wat tereg staar op meer as 15 huisbraak- en diefstalsake, en wat hoofsaaklik in Berea, Mayville en Morningside bedrywig is.
In Mei 2023 is al vyf beskuldigdes borgtog by die Dimbaza-hof geweier. Sicelo Mbulawa is in November 2023 ná sy appèl borgtog van R 75 000 in die hooggeregshof in Makhanda toegestaan.
- In Julie 2023 is ʼn polisiebeampte verbonde aan die Maderia-polisiestasie se opsporingsdienste, konst. Lindokuhle Manjati, in hegtenis geneem, aangekla en as sesde beskuldigde bygevoeg.
- In Augustus 2023 is Zimele Chiliza ʼn taxibaas in die provinsie en die vrou van die polisiebeampte wat ʼn prokureur is, Pelisa Nkonyeni in hegtenis geneem en onderskeidelik as sewende en agste beskuldigdes bygevoeg.
- In September 2023 is Thamsanqa Mgwetyana suksesvol opgespoor, aangekla en as negende beskuldigde bygevoeg.
- Op 17 November 2023 is Isaac Plaatjies, UFH se direkteur van ondersoek en ondersoekdienste gearresteer, aangekla en as tiende beskuldigde bygevoeg.
Genl. Fannie Masemola, nasionale kommissaris van polisie, en Cassel Mathale, adjunkminister van die polisie, sal Dinsdagoggend die verrigtinge in die Alice-landdroshof bywoon.
“Die taakspan kan nie die moontlikheid van nog arrestasies uitsluit nie aangesien ondersoeke steeds voortduur,” sê Mathe.
UFH is seker die vrotste universiteit in Suid Afrika en saam met die ander “universiteit” wat ook in Oos-Londen gehuisves word, net bygedra om die hele stad in nog meer van ‘n hool te omskep. Fort Beaufort is net so ‘n gemors oor die einste universiteit. Maak die plek toe.
Die een gun nie sy kollegas die pos nie, dan vermoor jy maar net die een wat die pos het wat jy wil he! Net in die wonderlike reenboognasie SA! Misdaad & geweld is koning in die land.