Tiener beswyk ná skietery in straat

Die tiener het onder ‘n bus probeer wegkruip toe hy doodgeskiet is. (Foto: Netcare 911)

Twee verdagtes is Maandag vinnig deur die polisie vasgetrek nadat hulle glo ʼn tiener in ʼn straat in Durban afgejaag en doodgeskiet het. ʼn Derde verdagte het daarin geslaag om die polisie te ontduik.

Kol. Thembeka Mbele, polisiewoordvoerder, sê die 17-jarige het na bewering Sondag om 12:45 op Butcherweg in Sydenham gestap toe ʼn onbekende motor hom genader het.

“Skielik het drie mans uit die motor gespring en skote op hom afgevuur,” sê Mbele.

“Die slagoffer het by die straat afgehardloop en by ʼn nabygeleë erf ingehardloop waar hy onder ʼn bus wat op die erf staan, probeer wegkruip het. Die gewapende mans het hom egter agtergevolg.”

Skote is op die tiener afgevuur en hy het verskeie skietwonde aan sy bolyf opgedoen. Die verdagtes het op die vlug geslaan.

Paramedici het kort ná die voorval die tiener op die grond aangetref.

“Die tiener is deur ʼn gevorderde lewensondersteunende paramedikus ondersoek, maar hy was leweloos en is op die toneel dood verklaar,” sê Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911.

Terwyl nooddienste op die moordtoneel was, het die polisie en ʼn plaaslike veiligheidsmaatskappy die vermeende moordenaars agternagesit.

“Die verdagtes het ʼn doodloopstraat bereik en skote op die polisie afgevuur,” sê Mbele.

Die drie mans het uit die motor gespring en te voet probeer vlug. Twee van hulle is egter aangekeer, terwyl die derde man in nabygeleë bosse verdwyn het.

Die twee verdagtes, onderskeidelik 26 en 27 jaar oud, is in hegtenis geneem en polisie het op twee vuurwapens en ammunisie beslag gelê.

Die mans sal na verwagting Dinsdag in die Durban-landdroshof verskyn waar hulle tereg staan op aanklag van moord, poging tot moord en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Die twee wapens waarop beslag gelê is, sal vir ballistiese toeste gestuur word.

Die motief vir die moord is nog nie bekend nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Misky ·

Twyfel of daai 17 jarige so onskuldig was en net in die straat afgestap het. Deesdae is hulle van jongs af met verkeerde dinge en groepe deurmekaar. Die ouers wat ek die gevalle jammer kry. Simpatie met die naasbestaandes.

Deon ·

Tragies….. Die afgelope ruk is daar verskriklik baie van hierdie tipe gevalle oor baie jong mense wat mekaar uit moor….. Wat se dit vir ons?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.