Soorte resepte:

Tiener bou reuse gemmerkoekhuis vir liefdadigheid

Morgan Pelser in die voltooide gemmerkoekhuisie. Foto: Kobus Robbertze

Morgan Pelser in die voltooide gemmerkoekhuisie. Foto: Kobus Robbertze

ʼn Tienermeisie van Bloemfontein het ʼn unieke veldtog van stapel gestuur om fondse in te samel vir ʼn liefdadigheidsprojek ten bate van kinders. Sy het professionele argitekte en sjefs gevra om haar te help om die grootste gemmerkoekhuisie in die Vrystaat te bou.

Morgan Pelser (13), ʼn graad 7-leerder van die Willem Postma Primêre Skool, is vanjaar aangestel as die jeugambassadeur van die Children’s Wing-projek. Hierdie projek, voorheen bekend as die Beds of Hope-projek, se uiteindelike doel is om ʼn moeder-en-kind-hospitaal op die been te bring. Op die korttermyn is R200 000 nodig om die neonatale en pediatriese eenhede by die Universitas en Pelonomi-hospitale in die stad op te gradeer.

Morgan vertel sy wou aan ʼn unieke manier dink om die geld in te samel en het hieraan gedink nadat sy saam met haar ouma ʼn gemmerkoekhuisie gebak het. “Dit was nie maklik om die projek aan die gang te kry nie. Aan die begin het ek vreeslik gesukkel om mense sover te kry om my plan ernstig op te neem,” vertel sy.

Morgan Pelser besig met die voltooiing van die gemmerkoekhuisie. Foto: Kobus Robbertze

Morgan Pelser besig met die voltooiing van die gemmerkoekhuisie. Foto: Kobus Robbertze

Sy was agter vasbeslote om haar plan te laat slaag en het Anton Roodt Argitekte gevra om die planne vir die huisie te teken en die ingenieurswerk te behartig. Die gawe sjefs van die Food and Beverage Institute het ook ingestem om te help en het nagte deur gemmerkoek-teëls gebak wat Morgan en haar maats met versiersuiker aan ʼn houtstruktuur vasgeplak het.

Die voltooide huisie is uiteindelik met lekkers en sjokolade versier wat Makro geskenk het, terwyl sjefs van die SA Chef’s Association 1000 klein gemmerkoekmannetjies gebak het om te verkoop ten bate van die projek.

Morgan vertel dit was ʼn groot gesukkel om die struktuur van die huisie by die Waterfront-winkelsentrum te kry waar dit vir die duur van die projek sou staan. Van die gemmerkoekteëls het gebreek, die versiersuiker het op die mees ongemaklike tye opgeraak en sommige verbygangers het sommer aan die huisie geëet!

Ná vier dae se swoeg en sweet en finale afronding deur die sjefs was die 2.2 meter hoë huisie uiteindelik klaar en is die projek Dinsdag amptelik van stapel gestuur. “Die huisie dien meer as bewusmaking, want mense vra waarvoor die huisie is en waaroor die projek gaan,” het Morgan verduidelik. “Die gemmerkoekmannetjies word ook by die huisie in die Waterfront verkoop.”

Sover het Morgan reeds R60 000 ingesamel ten bate van die Children’s Wing-projek. Mense of instansies wat graag wil bydra, kan ʼn e-pos stuur na [email protected]. Die huisie kan nog tot die naweek voor die Coco C-restaurant in die Waterfront in Bloemfontein besigtig word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nic Grobler ·

‘n Pragtige inisiatief! Dit moet lekker ruik in en om die huisie – sal sommer daar wil aftree!

Eliza-beth ·

Ai man jy is ‘n OULIKE kind! Sterkte met die fondsinsamelings en ek kan net sien hoe ‘n leier jy eendag gaan word!

Wynand Viljoen ·

Welgedaan dink net wat sal gebeur as ons n 100 tieners met sulke harte kan bymekaar kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.