Tiener deur haai aangeval by Plettenbergbaai

Argieffoto van ‘n witdoodshaai ter voorstelling (Foto: Terry Goss, Wikimedia Commons)

ʼn Tiener wat besig was om branderplank te ry, is Saterdagmiddag deur ʼn haai gebyt, het die Nasionale Seereddingsinstituut gesê.

Die span van NSRI Plettenbergbaai is omstreeks 17:00 na die toneel by The Waves, ʼn gewilde branderplankrygebied by Keurboomstrand, ontbied, het Craig Lambinon, woordvoerder van die NSRI, gesê.

“Die span is dadelik na die toneel ontplooi, saam met die AMS/EMS Skymed-reddingshelikopter en Med-Life-ambulansdiens.

“ʼn 14-jarige tiener van Port Elizabeth was reeds op die strand en het bytmerke op sy regterkuit gehad nadat die haai hom aangeval het,” het Lambinon verduidelik.

Paramedici het hom op die toneel behandel en hy is in ʼn stabiele toestand na die hospitaal geneem. Hy sterk aan in die hospitaal in ʼn bevredigende toestand nadat die bytplekke behandel is.

“Die tiener was op sy branderplank saam met twee ander branderplankryers. Hy het op die agterste golf omgedraai om met die golf uit te ry, toe hy ʼn vin in die water opgemerk het. Hy het ʼn stamp gevoel en toe ʼn byt aan sy regterkuit. Hy kon met die golf by die strand uitkom waar sy pa vir hom gewag het,” het Lambinon gesê. “Sy pa en omstanders het die voorval sien gebeur en dadelik hulp ontbied.”

Volgens Lambinon sal haainavorsers ondersoek instel om te bepaal watter tipe haai dit was en hoe groot die haai was, maar voorlopige tekens dui daarop dit was ʼn withaai van ongeveer twee meter lank. Dit is egter nog nie bevestig nie.

Die NSRI het Vrydag ʼn waarskuwing uitgereik vir strandgangers aan die kuslyn van die Suid-Kaap waar ʼn toenemende aantal haaie opgemerk is. “Die NSRI maan die publiek om versigtig te wees, veral op die kuslyn van die Suid-Kaap (Tuinroete), tussen Nature’s Valley en Mosselbaai, en veral by Plettenbergbaai,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Robert ·

Was daar nie reeds die vorige dag ‘n waarskuwing uitgereik nie!!!

Harry ·

As jy die dubble cab bakkie size haaie sien hier in falsbaai sal jy nie eers jou voete nat maak nie

TM ·

Die mense was gewaarsku, maar ek dink nie die haai het die waarskuwing gelees nie.

Haai in Mosselbaai ·

Ek twyfel of dit ‘n haai-aanval was. Dit klink vir my meer na ‘n haai-vergissing. Ons haaie val nie doelbewus mense aan nie. Ons haaie hap soms na iets om vas te stel wat dit is, veral as die sig swak is. As dit blyk ‘n mens te wees, laat ons hom dadelik met rus. As daardie haai die seun wou aanval, sou die uiteinde veel meer tragies gewees het. Mense moet hulle terminologie beter kies, anders neem ons haaie dalk aanstoot en raak getrigger.

Valerie ·

“Haai vergissing”? Jy bedoel soos ‘n slangbyt vergissing, ‘n Rottweiler aanval vergissing, ‘n pitbull aanval vergissing. O.

Joe Hall ·

Haai van Mosselbaai
Het jy onlangs ‘n opname onder die wit haaie hier in die Suidkaap gedoen wat jou raaiskoot kan bevestig?
Wanneer jy weer ‘n opname doen oor die gedrag en voorkeure van haaie, moet jy hulle asb vra hoeveel van die swerkaters proe eers voordat hulle sommer net gryp en byt.

Cherokee ·

Haai van Mosselbaai, ek stem met jou saam. Haaie vreet nie mense nie al word hulle soms mensvreters genoem. Wat noem jy dan mense wat haaie jag terwille van die vinne? Net soos jy sê, haaie byt mense een keer en nie ‘n tweede keer nie want dan word besef dat dit nie ‘n rob of soortgelyk is nie. Die mense wat met jou verskil besef nie hoe naby aan ‘n rob lyk ‘n skiplank gesien vanuit die water.

Bullseye ·

Hoekom gaan jy branderplank ry in n area waar daar haai aktiwiteit is EN waarskuwings uitgereik is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.