Tiener duik roeier uit water by kanomarathon

Luke Swinney is ‘n lewensredder van die Oos-Londen-branderplankklub (Foto: Berg River Canoe Marathon)

’n Tiener van Oos-Londen wat Sondag aan die Bergrivier-kanomarathon in die Wes-Kaap deelgeneem het, is as held vereer nadat hy ’n mederoeier van Soweto uit die water gered het. Dié deelnemer het tydens die eindskof van die resies sy bewussyn verloor en uit sy kano geval.

Volgens ’n verklaring deur die organiseerders van die marathon was Luke Swinney (18) en Siseko Ntondini (27) Sondag voor in die stroom toe Ntondini ’n epileptiese aanval gekry het. Hy het sy bewussyn verloor en in die water geval.

Swinney, ’n lewensredder van die Oos-Londen-branderplankklub, het gesien hoe Ntondini in die water val en het dadelik in die water gespring om hom te red. Swinney het Ntondini op die neus van ’n ander deelnemer se kano gelaai en hom na die oewer van die rivier geneem.

“Ek het geweet daar is fout omdat Ntondini nie asemgehaal het nie. Sy oë was ook teruggerol,” het Swinney ná afloop van die resies gesê.

Met die hulp van drie mededeelnemers, Christian Callebaut, Gert van Deventer en Nicky de Villiers, het hulle daarin geslaag om Ntondini op die rivier se wal te stabiliseer. ’n Ander roeier, Bryden Armstrong, het ’n selfoon uit ’n sak gehaal en die paramedici ontbied.

’n Neurochirurg, Crispin Thompson, was op die toneel en het gehelp met die reddingspoging.

Rob Hart, voorsitter van die Wes-Kaapse Kano-unie, wat ’n entjie agter Swinney en Ntondini geroei het, het die toneel voor hom sien afspeel.

“Dit was merkwaardig om te sien hoe Swinney nie geskroom het om in die water te spring om Ntondini te red nie. Dit was ook wonderlik om te aanskou hoe elke roeier in die betrokke groep besef het dat dit ’n moontlike verdrinking is en alles in hul vermoë gedoen het om te help,” sê Hart.

“Al daardie roeiers is helde.”

Paramedici het Ntondini behandel voordat hy na Velddrif geneem is vir verdere mediese behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
netek

Dit is amazing. Dit met beeld materiaal moet die hele wye wêreld ingestuur word. Welgedaan

Elinette

Maroela Media, maak jul blad so dat mens emoji’s kan gebruik – hierdie ene verdien ‘n “thumbs up”!!!

Tiptol

Hoendervleis van dié goeie nuus.

Sarel

Mooi ….kenmerkind van Sport

Vrijburger

Welgedaan.