Tiener en sewejarige word nog by Kleinmond vermis

Kleinmond (Foto: Stephan Reichert via Wikimedia Commons)

Soektogte deur die polisie se duikeenheid duur voort by Kleinmond-hoofstrand waar ʼn 17-jarige in die see verdwyn het en by Palmietrivier waar ʼn sewejarige meisie verdwyn het. Die liggaam van ʼn man is ook Sondag by Rooisand naby Kleinmond gevind.

Schalk Boonzaaier, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Kleinmond, sê die NSRI het Sondagoggend omstreeks 10:45 reageer op ʼn voorval by Rooisand waar ʼn lid van die publiek op ʼn liggaam op die strand afgekom het.

“Die NSRI het die polisie op die toneel bygestaan. Die man se liggaam is aan die polisie en patologiediens oorgegee. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen. Ons betuig ons innige meegevoel met die familie.”

NSRI Kleinmond is Sondagmiddag omstreeks 14:15 na die hoofstrand ontbied waar ʼn tiener vermoedelik verdrink het.

“Vier tieners op ʼn skoolkamp, vermoedelik van Montagu, het na bewering op ʼn sandbank in die see afgekom. Hulle het op die sandbank gestaan toe ʼn 17-jarige seun skielik onder die water verdwyn het. Hy is in die seestrome meegesleur.”

Die drie oorblywende tieners kon veilig na die strand terugswem.

NSRI Kleinmond, NSRI Hermanus, die polisie, Wes-Kaapse nooddienste en die EMS/AMS Skymed-helikopter het reageer.

“ʼn Omvattende soektog is van stapel gestuur, maar daar is steeds geen teken van die tiener nie. Die polisie se duikeenheid is Maandag ontplooi en die soektog duur voort. Ons dink aan die familie in dié moeilike tyd,” sê Boonzaaier.

In ʼn derde voorval het NSRI Kleinmond en NSRI Hermanus Sondag omstreeks 15:45 saam met die polisie en Wes-Kaapse nooddienste reageer op ʼn voorval by Palmietrivier.

ʼn Sewejarige meisie het saam met haar sussie geswem toe sy onder die water verdwyn het. “Haar 10-jarige sussie kon uit die water kom en paramedici het haar ondersoek. Sy is in ʼn stabiele toestand na ʼn hospitaal geneem.”

Twee NSRI-reddingsvaartuie en 11 reddingswemmers is ontplooi, maar die soektog was tevergeefs. ʼn Soektog deur die polisie se duikeenheid duur voort. “Ons dink aan die familie in dié moeilike tyd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.