Tiener erg beseer in skietvoorval

Conrad Zeelie (17) is ernstig beseer tydens ’n skietvoorval by ’n skoolmaat se huis. (Foto: Verskaf)

“Wanneer jy ’n oproep ontvang dat jou kind geskiet is, kruip daar onmiddellik vrees in jou hart in.”

Só sê ’n hartseer Amanda Zeelie, ’n voormalige risikobestuurder, wie se seun Conrad (17) verlede maand ernstig in ’n skietvoorval beseer is.

Volgens Zeelie was Conrad en ’n skoolmaat besig om huiswerk by die eetkamertafel in die maat se ouerhuis in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, te doen, toe ’n vuurwapen afgevuur is en Conrad in die regtervoorarm getref het.

Sowat 75% van die been in Conrad se arm het versplinter. (Foto: Verskaf)

Zeelie sê dat 75% van die been in Conrad se arm versplinter het. “Daar sit steeds baie fragmente van die koeël in sy arm vas, wat waarskynlik nooit heeltemal verwyder sal kan word nie. Hy het ook ernstige weefselskade opgedoen.”

Zeelie sê dat ’n strafregtelike saak aanhangig gemaak is en dat die persoon wat die wapen afgevuur het in Julie vir ’n tweede keer in die hof sal verskyn.

“Weens die sensitiewe stadium waarin die ondersoek is, kan daar nie meer besonderhede gegee word nie.”

Zeelie sê dat haar seun, ’n gr. 11-leerder aan Kuswag Skool in Amanzimtoti, weens die ongeluk ʼn groot deel van ʼn baie belangrike skooljaar gaan misloop.

“Ek dink nie enigiemand besef die enorme impak wat die ongeluk op my kind het nie. My hart breek vir hom.”

Zeelie, ’n enkelma, sê haar seun was nog altyd ’n “go getter”. Hy het sy pa op ’n baie jong ouderdom verloor.

“Hy presteer baie goed en moet vanjaar saam met sy klasmaats vir universiteit begin voorberei. Hy is boonop ’n topleerling in tegniese tekeninge (IGO) – ek hoop net nie dat die ongeluk sy tekenvermoë belemmer het nie, siende dat hy regshandig is.”

Conrad dien ook op die leerlingraad en is volgens sy ma ’n kranige sportman.

“Hy sou vandeesmaand vir die eerste rugbyspan uitgedraf het – iets waarna hy baie uitgesien het.”

“Hy loop so baie [goed] mis,” sê Zeelie. “Ek dink egter nie dat hy die omvang heeltemal besef nie – hy wil ook nie die wonde sien nie.”

Conrad sal voorlopig eers op 19 Mei kan terugkeer skool toe, omdat hy tans intensiewe en uiters duur behandeling ontvang.

Hoewel die aangeklaagde onderneem het om finansieel tot die behandeling by te dra, is volgehoue betalings nie gemaak nie.

“Die uitgawes is ongelooflik. Ek is nie ’n finansiële posisie om dit aan te gaan nie. Operasies en behandeling om my kind se arm volkome te herstel gaan honderdeduisende rande kos.”

Die skool het intussen ’n geldinsameling vir Conrad begin wat op hulle Facebook-blad bemark word. Zeelie het ook ’n Back a Buddy-fonds vir haar seun gestig om met uitgawes te help.

“Ek is innig dankbaar vir die ongelooflike ondersteuning van Kuswag Skool en die Amanzimtoti-gemeenskap. Sonder hulle ondersteuning sou ons onder meer nie die intensiewe wondbehandeling kon doen wat Conrad dringend nodig gehad het nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
SomeOne

hoop kom antwoorde oor al die vrae

Dries

Ai, wat n tragiese geval. Sterkte an ma en seun.

Jennifer

Maar WIE het die skoot gevuur en WAAROM???

Excalibur

Vuurwapens hoort NOOIT oorgehaal en/of gelaai te wees of word as die skut (“persoon agter die vuurwapen”) nie vuurwapen behendig is vir die tipe vuurwapen nie. Vuurwapen ammunisie (“Rondtes”/ (“Patrone”/”Koeels”) behoort ook glad nie saam in dieselfde sekerheidsbron (“kluis”) as enige vuurwapen geberg te word nie en slegs deur ‘n gekwalifiseerde skut gehanteer te word. Vuurwapens behoort slegs in aksie gestel te word in die jagveld/op ‘n ge-akkrediteerde skietbaan/plaas omgewing en/of wanneer daar ‘n direkte bedreiging heers. NOOIT sonder wettige rede in ‘n bewoonde/munisipale gebied nie. Besigtiging van ‘n vuurwapen gaan slegs gepaard met “onder voltydse direkte toesig van die… Lees meer »

Piet Snot

Maroela, in die regstelsel praat ons gewoonlik van ‘n “beskuldigde”, nie ‘n “aangeklaagde” nie.