Tiener ernstig beseer in tref-en-trap

Henro Collins is ernstig beseer toe n voertuig hom Donderdag getref het [Foto: Verskaf]

’n 15-jarige seun van Pretoria is ernstig beseer nadat hy Donderdag deur ’n voertuig getref is en die motoris weggery het sonder om stil te hou. Die familie probeer nou met die hulp van die polisie en gemeenskap dié motoris opspoor.

Henro Collins, ’n leerder aan Hoërskool Montana in Pretoria-Noord, het omstreeks 18:30 ná ’n ekstra wetenskapklas van die gebou waar die klasse aangebied is, oor die pad na sy pa se motor geloop. Dit is toe dat ’n donkergrys Hyundai ix35 teen ’n hengse spoed in sy rigting aangejaag gekom het.

Olff Collins, wat in die motor vir Henro sit en wag het, het die toneel voor hom sien afspeel.

“Voordat Henro oor die pad geloop het, het hy seker gemaak die pad is skoon. Daar was twee voertuie wat aangery gekom het, maar hulle was nog ver,” vertel Collins.

“Henro het die helfte van die pad gekruis toe een van die aankomende voertuie se ligte reg in my oë geskyn het. Ek het opgekyk en gesien die motor kom teen ’n baie vinnige spoed aangery. Hy was in die baan wat Henro nog moes oorsteek.

“Henro het begin hardloop, maar die motor was te vinnig en het hom getref.”

Volgens Collins het die motor daarna met ’n spoed weggejaag.

“Dit het gelyk asof die voertuig direk op Henro afpeil en nie eers probeer stop het nie. Daar was ook nie enige remmerke in die pad nie.”

Collins het ná die ongeluk uit sy motor geklim en na Henro – wat in die pad gelê het – gehardloop. Ouers van leerders wat ook by ekstra klasse was, het die ongeluk sien gebeur en hul na Henro gehaas om te help.

“Die ongeluk het om die draai van Netcare Montana-hospitaal gebeur. Die een vrou het dié hospitaal gebel. ’n Ander vrou het na die hospitaal gejaag om die paramedici te roep. Die ambulans het kort daarna op die toneel aangekom en paramedici het vir Henro gestabiliseer voordat hulle hom hospitaal toe geneem het.”

Volgens Collins het Henro ’n klein skedelbreuk en harsingskudding opgedoen. Hy het ook sy kakebeen gebreek en het bloeding op die brein gehad. Die dokters het sy kakebeen met skroewe en plaatjies geheg.

Henro is Maandagoggend ontslaan en sterk tans by die huis aan. Volgens Collins is Henro lief vir sport en hulle weet nog nie of die beserings sy sportdrome vir die jaar sal kniehalter nie.

“Ons dink nie te ver in die toekoms in nie, ons is vir nou net dankbaar Henro is by die huis.”

Volgens Collins is Henro erg getraumatiseerd en het baie vrae oor die ongeluk.

Collins sê die familie het ’n saak by die polisie aanhangig gemaak en polisie en plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) help die familie om die persoon op te spoor.

“Ooggetuies op die toneel het foto’s van die motor geneem, maar ’n mens kan nie die nommerplaat daarop uitmaak nie.”

Maroela Media het ’n navraag oor die voorval aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Anthony ·

Seker is daar iewer ccv kring televies kameras wat die kar moes opvang, of verder in die pad af, of vroeer voor die ongeluk? Kom ons hoop. Sterkte aan die arme seun en sy familie

Gerhard ·

Is dit verkeerd van my om te voel so iemand moet aangekla word vir poging tot moord? Dit raak n algemene ding dat as iemand raakgery word dat die bestuurder reken dis net makliker om weg te ry sodat dit nie sy probleem is nie. Ek skaam my vir my landsgenote.

Sterkte aan die familie. Hoop hy herstel baie vinnig.

Asgat ·

Miskien moet MM van die foto’s bekend maak van die voertuig al kan ons nie die registrasie plate sien nie kan iemand dalk die kar op n’ ander manier herken. Ek hoop regtig die persoon of persone word gevang en toegesluit. Sterkte aan Henro en familie…

FJ ·

Plaaslik is ‘n fietsryer jare terug doodgery. Met die kennis van die tipe en kleur van die voertuig het sy vriende begin soek en die skuldige vasgetrek in ‘n meenthuis kompleks. Bakkie met skade en al in motorhuis gekry.

Misky ·

Sterkte aan Henro en sy familie. Hoop julle kry daai skurk vinnig en hy word gevonnis vir poging tot moord

Lourens ·

Die skool is nie in Pretoria Noord nie. Dis in Montana. Redelike afstand van Pretoria Noord af, met Sinoville(en Hoërskool Overkruin) tusen in……

Sterkte jongman.

Toy ·

Gewenteloos, ek hoop die drywer word vinnig gevang. Hoe slaap so persoon.

Anoniem ·

Ag nee, dit is verskriklik. Ek hoop hul spoor daardie motoris op en dat hy sal boet vir sy daad.
Sterkte aan Henro en sy ouers. Spoedige herstel word jou toegebin Henro.

Mariana ·

Sit fotos op sosiale media en kyk hoe vinnig word hy opgespoor. Klink of die persoon bedoel het om die kind te tref. Poging tot moord? Ja dit is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.