Tiener getuig oor ‘huwelik’ met 61-jarige

Die beskuldigdes in die hof. (Foto: ANA)

Die 13-jarige verstandelik gestremde meisie wat na bewering ʼn slagoffer van mensehandel geword het en gedwing is om met ʼn man in sy sestigs te trou, is glo in die sorg van haar oom geslaan en daarna verkrag toe sy Port Elizabeth toe gestuur is om by haar “eggenoot” te gaan woon.

Só het die meisie, nou 15 jaar oud, Woensdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth getuig.

Die meisie het gister vertel sy het by haar oom in Stanger, KwaZulu-Natal, gaan woon ná die dood van albei haar ouers. Hier is sy glo herhaaldelik geslaan.

Sy het gesê sy was tydens haar verblyf in Stanger voortdurend bang en het in die toilet buite die huis geslaap. Sy het ook getuig sy het nie skool toe gegaan nie omdat sy bang was om haar skoolklere in haar oom se slaapkamer te gaan kry.

Nadat sy ʼn 63-jarige vrou by die kerk ontmoet het, het sy by dié vrou se dogter in Bizana in die Oos-Kaap gaan woon waar sy toe skool gegaan het en gr. 5 voltooi het.

Die meisie se oom het haar geboortesertifikaat en rapporte aan die vrou gegee wat dit aan haar dogter gegee het. In ruil hiervoor het die vrou se dogter ʼn skool vir haar gereël.

In haar gr. 6-jaar het ʼn 61-jarige man, die 63-jarige vrou se broer, ʼn selfoon na die huis waar die meisie gewoon het gestuur sodat hy met haar kon kommunikeer.

Die tiener het gister getuig die man het Bizana besoek en toe gereël om haar te ontmoet. Die dogter van die vrou het haar opdrag gegee om die man by ʼn taxistaanplek te ontmoet waarna hy vir haar kitskos en kruideniersware gekoop het.

Sy het eendag van die skool af gekom, toe die vrou aan haar sê dat sy nie meer sal skoolgaan nie, aangesien sy die “reëls, praktyke en beginsels” van ʼn getroude vrou moes leer.

Die tiener vertel sy het eers nie geweet waarom sy dié beginsels moes leer nie, maar is toe touwys gemaak oor hoe om te kook en skoon te maak.

Daarna het die 61-jarige man geld na die huis gestuur en die meisie opdrag gegee om ʼn taxi na Shakaskraal te neem waar sy haar oom ontmoet het.

“My oom het vir my gesê ek is nie meer ʼn kind nie en ek gaan nou ʼn vrou wees. Hy het my toe oorgegee [aan die 63-jarige vrou],” vertel sy. “My oom het gesê ek gaan die man se vrou wees aangesien hy reeds lobola betaal het.”

Van Shakaskraal is die kind per taxi na Ballito, noord van Durban, daarna na Mthatha en toe uiteindelik na Njoli-plein in Port Elizabeth waar die man haar ingewag het. Hy het haar probeer soen, maar sy het sy toenadering geweier.

Sy het aan die hof vertel dat sy maar ingestem het om ʼn vrou te wees, maar mettertyd wou sy nie meer saam met haar [61-jarige] man met “die lelike gesig” wees nie.

Die tiener is gevolglik na die man se “vuil huis” in Port Elizabeth geneem.

Sy het getuig dat sy hiér elke dag in en om die huis moes werk en onder meer moes kook en skoonmaak. Sy beweer die man het haar verkrag en ook op ʼn stadium gewurg sodat sy nie ʼn geluid kon maak nie.

Sy het getuig sy het bedags haar dae voor die televisie omgesit terwyl die man by die werk was. By sy terugkeer van die werk moes sy glo haar man se badwater vir hom intap waarna sy aandete moes voorberei. Sy is dán glo deur hom verkrag.

Sy het getuig dat haar man ook met haar geraas het as sy buite die huis gesit het. Hy wou hê sy moet in die huis toegesluit word.

Die tiener se oom, die 63-jarige vrou en die tiener se man staan tereg op aanklagte van mensehandel en gedwonge huwelik vir die doeleindes van uitbuiting. Daar is ook twee aanklagte van verkragting teen haar man aanhangig gemaak.

Dié drie het gister onskuldig op die meeste van die aanklagte gepleit. Die oom het wel ʼn pleitooreenkoms in verband met die klag van mensehandel teen hom aangegaan.

Die beskuldigdes se name word weerhou om die identiteit van die tiener te beskerm.

Die verhoor duur voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Santjie ·

Waarom steek julle jul gesigte weg? Toe julle hierdie onmenslike ding aan die kind gedoen het, was julle nie skaam daaroor nie.

Annie ·

Ai my meisie.. hoe siek is die mense nie wat jou moes versorg, vir jou sekuriteit mos gee … ek bid vir jou meisie …

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.