Tiener, jong man op Kaapse vlakte doodgeskiet

(Argieffoto: Marcus Trapp/pixabay)

Die Wes-Kaapse polisie ondersoek die omstandighede rakende ’n skietery in Mitchells Plain in Kaapstad wat Donderdagaand die lewe van ’n 13-jarige seun geëis het.

Nóg ’n saak van moord word ondersoek nadat ’n jong man in ’n ander voorval gisteraand in dieselfde omgewing doodgeskiet is.

Die provinsiale regering het nou opnuut sy kommer oor die uitwerking van geweldsmisdaad op jong mense uitgespreek.

Kol. Andrè Traut, woordvoerder van die polisie, sê die insittendes van ’n wit motor het omstreeks 20:50 op ’n groep tieners op die hoek van Cadillac- en Rileystraat in Beacon Valley losgebrand.

’n 13-jarige seun is gedurende die voorval doodgeskiet. Drie ander – onderskeidelik 14, 16 en 18 jaar oud – is gewond.

Die motief vir dié skietery is in dié stadium onbekend en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Volgens Traut is die polisie gisteraand na nóg ’n toneel in die omgewing, dié keer op die hoek van Cadillac- en Austinstraat, ontbied waar die liggaam van ’n 18-jarige man met ’n skietwond aan sy nek aangetref is. Die man is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

Sake van moord en poging tot moord is by die plaaslike polisie aanhangig gemaak.

Albert Fritz, die minister van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê hy is vanoggend tydens ’n vergadering met die waarnemende provinsiale kommissaris, genl.maj. Thembisile Patekile, daarvan in kennis gestel dat ’n 72-uur-aktiveringsplan in Beacon Valley ingestel is om na die verdagtes te soek.

’n Taakspan is ook saamgestel om die verdagtes te identifiseer.

“Kinders moenie in vrees leef dat hulle geskiet word of vir geweld grootword nie,” sê die minister.

Fritz het sy medelye met die naasbestaandes van die slagoffers in albei voorvalle betoon. “Dit is uiters kommerwekkend om te sien hoe jong mense deur geweldsmisdaad geteiken word. Ek sal die gesinne besoek om my medelye te betuig.”

Enigiemand met inligting rakende die skietvoorvalle word versoek om Stop Misdaad by 08600 10111 te bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anton

Solank hulle net nie op die strand loop nie

Mariana

Ag nee magtig, dit is kinders wat geskiet word. Klink soos bende-taktiek. Vir hulle beteken ‘n lewe niks….

Sarel

Minister Cele is dood stil
Hoekom was die mense nie ontwapen.nie.
Jy ontwapen wetsgehoorsame mense en bewapen
Misdadigers wat kindrrs vermoor maar dan
Gaan dtink jy tee (???) By Zuma

Casper

Dwelm verwant miskien.Dwelms is mos die grootste bron van inkomste en dwelmbase het geen gewete nie en gee ook nie om wie doodgeskiet word nie.Snaaks baie min dwelmbase word vasgetrek indien enige.Word daar “beskerming” aan hulle gebied teen vergoeding.

Stephan

Dit het tyd geword vir spesialiseenhede in hierdie land. Die SAPD het sodanig agteruit gegaan dat mens nie meer op hulle kan staatmaak nie.
Privatiseer hierdie spesialiseenhede sodat lede haarfyn gekeur kan word.