Tiener kap man met panga tydens huisbraak

Argieffoto

Argieffoto

ʼn 39-jarige man is in ʼn ernstige toestand in die hospitaal nadat hy tydens ʼn huisbraak in Ramsgate, KwaZulu-Natal, met ʼn panga aangeval is.

“ʼn Groep tieners het Donderdag in die vroeë oggendure ʼn motorhuis se deur by ʼn huis in Nationalstraat oopgedwing,” het kol Jay Naicker, ʼn polisiewoordvoerder, Vrydag aan Maroela Media gesê.

“ʼn Tuinier wat in ʼn buitekamer woon, het omstreeks 01:00 wakker geword van die lawaai. Hy het sy panga gegryp en gaan ondersoek instel.”

Van die tieners het weggehardloop, maar die tuinier kon daarin slaag om ʼn 16-jarige aan te keer. “Die verdagte het teruggeveg, die tuinier oorweldig en die panga by hom afgeneem. Die tuinier het snywonde aan sy kop, arm en been opgedoen,” het Naicker bygevoeg.

ʼn Veiligheidswag het intussen op die toneel gekom en tot die tuinier se redding gekom. Die tiener is in hegtenis geneem en verskyn binnekort in die hof in Ramsgate.

Paramedici van Netcare 911 het die tuinier op die toneel bygestaan en na ʼn nabygeleë hospitaal geneem vir verdere behandeling.

Die polisie ondersoek die saak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.