Tiener ‘klaar met motorfietse’ ná ongeluk

Deacon du Plessis

Deacon du Plessis is ernstig beseer nadat hy met sy Honda Fireblade-motorfiets in ’n botsing betrokke was. (Foto: Verskaf)

Deacon du Plessis (17) sê hy sal voortaan liefs by “vier wiele” bly nadat ’n ernstige motorfietsongeluk op 26 Junie vanjaar hom byna sy lewe gekos het.

Dié gr. 11-leerder aan Hoër Tegniese Skool (HTS) in Witbank in Mpumalanga was amper twee maande lank in die Witbank-staatshospitaal waar hy vir twee weke onder verdowing was en verskeie bloedoortappings ontvang het.

Hy het ook sy regterbeen bokant die knie gebreek en skade aan sy niere opgedoen.

Hoewel Deacon ook swelling op die brein gehad het, het hy Saterdag aan Maroela Media gesê hy is uiters dankbaar dat hy geen permanente skade opgedoen of enige ledemate verloor het nie.

“Die Here het my lewe gespaar en ek is steeds wie ek voorheen was. Daarvoor is ek baie dankbaar.”

Deacon ontvang tans elke tweede week fisioterapie aangesien sy spiere verkort het.

Deacon is ’n gr. 11-leerder aan die HTS Witbank en ’n kranige potspeler. (Foto: Verskaf)

“Ek kan my been nog nie heeltemal buig nie, maar dit gaan darem al beter. Ek moet die dokter weer in Januarie gaan sien.”

Deacon sê hoewel hy nog nie heeltemal herstel het nie, voel hy egter positief en gemotiveerd.

“Ek het ʼn tweede kans op die lewe gekry en gaan nie op ʼn hopie sit en myself bejammer nie. My hele lewe lê nog voor my en ek wil die beste daarvan maak.”

Hy is egter klaar met ysterperde.

“Ek het nog nie weer op ʼn bike geklim nie en ek gaan ook nie weer nie.

“Ek het my ma belowe dat ek nooit weer motorfiets sal ry nie. Ek gaan nou maar eerder by vier wiele bly – dis baie veiliger.”

Maroela Media het vroeër berig dat Deacon, ’n kranige potspelspeler, die aand voor die ongeluk by ʼn vriend oorgeslaap het nadat hulle vir ʼn potspelligawedstryd voorberei het.

Hy was die volgende oggend op pad huis toe toe ʼn motor teen sy Honda Fireblade-motorfiets gebots het.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Reynier ·

Ek is bly dat hy herstel.Maar ek verstaan nie hoekom mense vir hulle kinders sulke goed kan koop nie maar nie die basiese nodigheid van ‘n mediese fonds het nie. Sekerlik kan jy medies finds (selfs net ‘n hospitaal plan) bekostig as jy vir jou kind so iets kan koop. Mense moet prioriteite regkry.

Robert ·

My pa het my so gekyk… “Eendag as jy 21 is en jou eie geld verdien.”

Danie ·

Geluk aan die jong man vir sy goeie besluit.
Gelukkig het hierdie deel van sy verstandkry proses goed afgeloop.
Ek het self motorfietse gehad en is steeds erg oor hulle, maar in vandag se tyd, aikona.

Janine ·

Daar is net te veel voertuie vandag op die pad. Ons het grootgeword op motorfietse, terwyl ons in die laerskool was. Dis net te onveilig vandag.

Janine ·

Vierwiele is NET so gevaarlik. Sterkte en mag jy spoedig volkome herstel.

Solomon ·

Die probleem is dat motorfiese nie lugsakke, vieligheidsgordel het nie en net twee wiele het.

Tanniepetoors ·

Het hy ooit ‘n lisensie gehad vir daai motorfiets? Lyk vir my bietjie groot vir ‘n 17-jarige. Of is ek nou outyds en agter die klip?

Prikkie ·

Op 17 kan jy ‘n leerlinglisensie vir ‘n motorfiets bekom (wettig).

Prikkie ·

Dit is nie soseer die motorfiets wat gevaarlik is nie. Dit is dikwels ‘n geval van motoriste wat nie uitkyk vir motorfietse nie en let wel, ek sê nie ALLE motoriste nie.

Swerwer ·

Dankbaar hy het herstel, As ouers maar net besef dat motorfietse en bromponies lewensgevaarlik is. Weet dit is enige jongmens se droom, maar is die trauma die moeitewerd?

Belinda ·

Eks bly hy het herstel, maar dis die ouers se skuld dat hul vir die laitie n fireblade in die eerste plek gegee het om te ry. Ek het seuns en ek weet hulle is altyd windg*t net om shine voor hul maats te vang. Hy mag na regte nog nie eens sulke groot fietse ry nie, of hy op n motorfiets “grootgeword”het of watookal, volgens wet mag jy nie so groot fiets op jou ouderdom ry nie.

Seun dis nie te se jy moet motorfietse opgee nie, wees net meer versigtig! Eks bly jy het herstel na jou ongeluk :-)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.