Tiener kritiek ná rugbybesering: ‘Mamma, ek is verlam’

‘n Jonger Dano Swart in aksie op die rugbyveld. (Foto: Facebook)

ʼn Matriekleerder van Hoërskool Brandwag in Uitenhage in die Oos-Kaap is tans in ʼn kritieke toestand in die waakeenheid van ’n hospitaal nadat hy ʼn week gelede tydens rugbyproewe beseer is.

Die 18-jarige Dano Swart, onderkaptein van die skool se eerste rugbyspan en kaptein van die eerste krieketspan, het verlede Dinsdag aan provinsiale rugbyproewe by Hoërskool Framesby in Port Elizabeth deelgeneem. Dié kranige sportman was op pad om ʼn drie te gaan druk toe hy grond toe geduik is en op die rugbyveld bly lê het.

“Toe ek by hom kom, het hy net gesê: ‘Mamma, ek is verlam.’ Hy het in ʼn moeilike posisie gelê en kon nie sy arms of bene voel nie,” verduidelik Sanet Swart, Dano se ma, aan Maroela Media.

Sanet vertel dat paramedici aanvanklik na een van die ander rugbyvelde uitgeroep was en eintlik verkeerdelik by dié veld, waar Dano gelê het, opgedaag het. Hulle het vinnig agtergekom dat Dano ernstig beseer was en besluit om hom eerste te help. “Dit was absoluut die Here se bestiering,” glo Sanet.

Dano is daarna in die ambulans gelaai en kon by sy aankoms by die hospitaal sy arm slegs gedeeltelik beweeg.

Sanet is ʼn radiografis van beroep en het hulp ingeroep om so vinnig as moontlik ʼn MRI-skandering op Dano te laat doen. Die seun is binne ure in die teater ingestoot om ʼn operasie van drie en ʼn half uur aan sy nek te ondergaan. Die druk op Dano se ruggraat is tydens dié operasie verlig.

Hoewel Dano in dié stadium steeds nie gevoel in sy onderlyf het nie, is dit egter die minste van sy gesin se bekommernisse – Dano se toestand het Vrydag begin verswak.

Dano Swart (Foto: Facebook)

Dano moes die afgelope week suurstof ontvang, en om sake te vererger het hy ook ʼn longinfeksie opgedoen en is tans in ʼn kritieke toestand.

Hoewel hy onder verdowing was probeer die dokters hom nou daarvan speen. “Dit raak vir hom ʼn frustrasie want hy probeer met ons kommunikeer. Ons bid net dat hy verbetering sal toon. Op dié stadium is die gevoel van sy ledemate nie ons eerste prioriteit nie,” sê sy ma.

Dano sal na verwagting vandag ʼn voedingsbuis ontvang.

Op die vraag oor hoe moeilik die afgelope week vir Sanet as ouer was, antwoord sy dadelik: “Jou hele wêreld tuimel ineen.”

Volgens Sanet het die voorval hulle gesin egter nader aan mekaar gebring omdat hulle vir mekaar moet instaan. “Ons spreek lewe,” het Sanet verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

63 Kommentare

Kallimaari ·

Vader ons bid dat U vir Dano sal genees. Gebruik hierdie ongeluk om U Naam te verhef. Ek vra dat U hom, en sy familie, in U arms van genade en genesing sal omvou in Jesus se kosbare Naam. Amen.

arthur van vuuren ·

Amen! Mag ons Almagtige Vader God genesing meebring vir liggaam, siel en gees, volgens Sy wil en tot Sy eer alleen. Geloofd sy die Naam van die HERE.

Estelle ·

Aan die Swart gesin – ek is self n rugby ma en my kind is so 7 weke terug ook beseer en moes met n helikoper vervoer word. My gebede is by julle en ons weet dat die Vader sy hand oor Dano sal hou en oor jul in hierdie moeilike tye.

Erika ·

Ons dra hom op in ons gebede vir ‘n spoedige herstel…Sterkte aan die familie en vriende ook..

Deloris ·

Ons innige gebede vir julle gesin. Hou vas aaan julle geloof.

Elsabie ·

Oh my word!! Baie sterkte seuna! Ek dra jou op in gebed. By God is niks onmoontlik nie. Sterkte aan die familie!

Johanna ·

Mag God jou volkome genees jong man. Julle is in my gebede.

Pampoen ·

Sterkte. Moes verlede Saterdag hoor hoe lelik en agresief die klein kindertjies langs die rugby veld by ‘n skool deur hulle ouers voor gesê is om te speel. Het sommer weer my respek vir Rugby verloor

Ansie ·

In 1999 is my jonste seun, toe 19 jaar oud in ‘n kar ongeluk beseer. Sy nek was gebreek want een nekwerwel het versplinter. Daar was drukking en swelling op sy rugmurg wat hom totaal verlam gelaat het. Hy was 3 weke in intensiewe sorg en 3 maande in rehablitasie. Ek het dag en nag gebid saam met verskillende gebedsgroepe. Hy het na die 3 maande sy rolstoel uit die rehablitasie sentrum gestoot. Hy is vandag die eienaar van sy eie nutsman besigheid. Hou moed God doen wonderwerke.

Maryke ·

Here, ek dra die gesin op aan U. U alleen kan wonderwerke verrig. My seun speel onder 14 a span in Bloemfontein. Hul het Saterdag teen n skool gespeel, daar is geen meer respek of dissipline in skole rugby nie. Die ander skool het so vuil gespeel en hoog getackle. Niemand doen niks. Dis n skande. Vrou ek sal aanhou bid vir julle. Sterkte

Regs! ·

Hoeveel seuns gaan nog ge-offer word aan die rugby afgod voor julle wakker skrik?

Vra ek ook ·

Ek kon nog nooit die logika van rugby (en boks) insien nie. Nie op skool nie en ook nie nou nie. Wat se sport is dit waar jy jou opponent met geweld moet “wen”? Dis nie ‘n sport nie, dis barbarisme. Aldrie my broers het blywende skaee opgedoen met rugby. Twee het stukkende knieë en rugwerwels oorgehou en die derde was so getrap op skool dat sy aorta beskadig is. Hy is op 40 weens komplikasies van daardie besering oorlede. My seun was toegelaat om aan enige sport behalwe rugby en boks deel te neem. Hy het goed, gebalanseerd grootgeword sonder enige permanente beserings. Hy het niks oorgekom omdat hy nie rugby gespeel het nie.

Yvonne ·

Is dit nou nodig. Rugby is n sport. Ongelukke gebeur maak nie saak watter sport jy beoefen nie. Sterkte aan die gesin en ek bid n volkome herstel aan Dano.

Netso ·

Ek stem volkome saam met jou, Vra ek ook. Rugby is ‘n vuil, aggresiewe sport.

Flip ·

Ag liewe Hemel….dis nie wat die mense nou nodig het nie ….ongelukke gebeur….so kom by asseblief. Ons Bid Yahvah se seen en Genade dat daar n spoedige hestel sal wees.

Gesiggie ·

So jammer dat so iets moes gebeur met Dano…sterkte aan die gesin en hou vas aan jul geloof by God is als moontlik…mag als gou weer beter gaan.

Johann ·

So erg beseer tydens skool rugby? En dis nie die enigste geval nie…ook geen wonder as mens luister wat die jing seuns mekaar toesnou voor en tydens n wedstryd nie.En die “motivering” strategie van afrigters…haal hulle uit manne!!!! Maak seker hy kruip van die veld af…breek hulle…

Stem ·

Ek stem saam Johann, dit raak te erg. As ek langs die veld staan en hoor hoe ouers ook skree “breek hom” of sulke goed, dan het ek my smaak vir die sport verloor. Die kinders is nou onder sulke erge druk om te al hoe harder te speel dat beserings algemeen is. Dit is baie jammer want die kinders het so baie om voor te leef nog.

rolla ·

Toe ek op skool was baie jare terug was ons derby met die manne anderkant die spoorlyn. Hulle ma’s het met koekrollers en potte op die kantlyn gestaan (dis waar, ek jok nie). Waag jy nou net om ietsie rofs met hulle kênners aan te vang dan word jy ge-pot. LOL

Jack Russl ·

Jy kan nie alle afrigters oor dieselfde kam skeer nie.

Ons leer die spelers van kleins af respek vir die spel, jou span maats en die ander span.

Rugby ma ·

Baie sterkte aan jul, Sanet. Ek bid saam jul vir volkome genesing.

Rugby Mamma ·

Julle is in al ons Rugby Mammas en Pappas se gebede. Ons weet en verstaan waardeur julle gaan. MM hou ons asseblief op hoogte??

Christine ·

Baie baie sterkte so hartseer , Here wees met hierdie gesin asb.

Jan Brand ·

Bestiering van die Here sê sy. Ek is bly die here bestier nie my lewe so nie.

SNEL ·

Jan Brand, die Here het gesê in hierdie wêreld gaan ons dit moeilik hê., maar in moeilike tye gebeur daar sulke genade dinge wat n ou se situasie dan makliker maak of n ligpunt bring in n donker situasie, soos wat hier met hulle gebeur het, regte mense op die regte tyd.

toy ·

Weet dat die Here by jou is en Hy sal jou help in hierdie tyd. Ek bid en vra dat Here jou asb tenvolle sal herstel. Sterkte vir jou en jou mamma. xxx

Melanie ·

Ons dien n lewendige God. In Jesus se Heilige naam, spreek ons LEWE. AMEN.
Alle sterkte aan die hele gesin, familie en vriende. Jesus is daar en sy seën word oor julle gespreek. Xxx

Rika ·

Sterkte aan die gesin bid en glo hy sal volkome herstel ♥️♥️

Mariska Freitag ·

Baie sterkte en mag God jul seun genees! Ek het fotos waar my seun verlede naweek telke kere om sy nek gegryp is in takels. Sy takels darenteen is alles onderlyf.

Dít rig my na afrigters, lynregters en skeidsregters!!

Ek voel jou pyn Sanet ·

Here ek vra u help die seuntjie genees hom laat hy weer kan opstaan en kan hardloop …
in Jesus naam AMEN!!!
My seun het die naweek ook op die rugby veld n groot duik slag gehad van n kind …
ek het myself koud geskrik my hart het in my keel geklop ….

Patch ·

Ek is ook ‘n rugby-mamma van n matriekleerling en my grootste vrees is altyd die beserings. Ek dank die Here dat my kind nog nie ernstig beseer is nie. Hy is absoluut gek oor sy rugby en ek sal dit nooit van hom weerhou nie. Hy het al die voorreg gehad om oorsee te gaan toer en gaan weer hierdie jaar en ek kan net bid dat hy nie sal ernstig seerkry sover van die huis af nie. Sanet, ek bid dat Dano volkome sal herstel. Dit gaan ‘n lang pad wees. Hou moed, glo en vertrou dat ons Vader sy hand sal vashou.

Mariaan ·

Baie sterkte..ons glo en vertrou hy sal herstel…MAAR ja..rugby is n gevaarlike sport…oor en oor bewys!

Thomas ·

Ai ai. Weet dit, elkeen wat hier pos se gedagtes gaan verder hardloop as net die pos. Dit is, dink steeds aan julle.

Susan H ·

Ek bid vir volkome herstel vir hierdie jong seun en vir baie genade en krag vir sy ouers. Geloof, hoop en baie liefde.

JR ·

Dis so hartverskeurend. Nog n kind ernstig beseer. Wanneer gaan skole besef sport (insluitend ons afgod rugby), daar is om kinders balans in lewe en ontwikkeling te gee. Die “WEN TEN ALLE KOSTE” kultuur wat geskep is, is siek. Kinders val oor voete om steroiede te kry. Massas geld word ingesamel vir toere. En akademie, wel, dit moet ma ingepas word. Gewoonlik net so voor eksamen om in te haal. Ha ha. Ja ek weet, het ook kinders op skool gehad. As fondse vir sport op addisionele beheerliggaamposte spandeer word, sal ons nie sit waar ons nou is nie.
30 Jaar trug was n skool se sukses om kinders wat sukkel akademies deur te trek. Vandag, hoeveel sporthelde hulle kan oplewer. En die is maar handjievol, wat gedruk en gedruk word tot verby wat hul liggame en vermoë kan vat.
Iets om oor te dink nê?

HC ·

Dit klink vir my soos ‘n fratsongeluk. Ek verkies veel eerder dat my kinders aan sport deelneem asom voortdurend voor video speletjies te sit.

Ek hoop, glo en vertrou dat seun volkome sal herstel.

Ook maar net 'n ma ·

Ek is ook maar ‘n mamma wat die beste vir haar kind wil he hoe se jy nee vir n kind wat op sy eie manier lewe vir die sport? hy is nou eers graad 3 maar kyk hier daar is niks beter vir hom as rugby nie die maaitjies die uitdaging sy susi wat skree kom boetie… dis ‘n sport waarvoor ek sal opkom ja ek vrees dat my seun sal seer kry… maar met die Here saam ons…. en soos julle se dis die afrigters… ouers ens… wat die agressie op die veld uitbring… ek is 1 van die mamma’s wat net gesien word nie gehoor word nie ek verstom my aan van daai mense langs daai veld Liefste mamma en Dano, ek vra vandag dat God julle styf sal vashou julle geloof en hoop hoog sal hou dat hy jou sal genees seun jy het net gedoen wat jy geniet. Ek bid vir julle. MM – hou ons asb op hoogte

Annelien Moffat ·

Hemelse Vader,U is Groot en doen dinge wat by mense onmoontlik is!Ons roep uit na U namens Dano en vra DAT U hom volkome sal aanraak en oprig tot eer van U Wonderlike Naam!Hou ons op hoogte ASB!

Anoniem ·

Ek pleit dat God se hand van genesing in Dano se lewe sal werk. Geen jongman verdien so ‘n terugslag nie, hy het nog sy hele lewe voor hom.

Annolene ·

Ek het Dano op die rugbyveld, deur my kameralens, sien groot word, hy is n tawwe seun en sy hart is op die regte plek. Dano kind, ek spreek lewe oor jou liggaam en volkome genesing in die naam van Yeshua.

Alice ·

Ek kan nie verstaan dat daar nie n enkele persoon hierbo is wat hul versoeke aan God afsluit met as dit U wil is. Nie ons wil nie maar U wil. Al vra almal vir volkome genesing nog steeds as God wil. Of skryf ons voor vir God wat hy moet doen sodat ons versoeke beter kan lyk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.