Tiener met pistool by skool betrap

(Foto: SAPD Wes-Kaap)

ʼn 14-jarige tiener is by ʼn hoërskool in Woodstock in Kaapstad betrap met ʼn 9 mm-pistool in sy besit.

Kapt. Frederick Van Wyk, woordvoerder van die polisie, sê die Maitland-blitspatrollie het Donderdag inligting ontvang oor die leerder. “Beamptes het reageer en die 14-jarige is met die 9 mm-pistool in sy besit betrap. Hy is in hegtenis geneem op aanklag van die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en ammunisie.”

Hy word deur die Woodstock-polisie aangehou. Hy sal na verwagting Dinsdag in die Kaapstadse landdroshof verskyn.

In ʼn onverwante saak het lede van die teenbende-eenheid ook inligting opgevolg en drie mans, tussen 39 en 41 jaar oud, is in Heideveld en Manenberg in hegtenis geneem.

Beamptes het ʼn 41-jarige man in Easter Peak in hegtenis geneem. Hy is deur verdere ondersoek verbind met drie bendemoorde wat tans in die Manenberg-polisiëringsdistrik ondersoek word.

In dieselfde omgewing van Easter Peak Road is ʼn 41-jarige man in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ammunisie ná inligting ontvang is oor patrone wat op die perseel gehou word. Daar is beslag gelê op 213 patrone.

ʼn 39-jarige man is in Manenberg in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van ammunisie toe hy met twee 9 mm-patrone betrap is.

Die drie mans sal na verwagting Dinsdag in die Athlone-landdroshof verskyn.

ʼn 46-jarige man is ook in Steenberg in hegtenis geneem ná inligting opgevolg is oor vuurwapens en ammunisie op die perseel. Beamptes het op ʼn CZ 7,65 mm-pistool afgekom met ses patrone wat tussen luidsprekers versteek is.

Altesaam 606 verdagtes is ook deur die loop van die week in hegtenis geneem op aanklag van moord, poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer, aanranding, huisbraak, huisroof, seksuele oortredings, huishoudelike geweld en die besit van vuurwapens en dwelmmiddels.

Lt.genl. Thembisile Patekile, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof vir hul toewyding. Hy het ook die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning om die misdade aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.