Tiener ontbied hulp oor WhatsApp tydens huisroof

Die boodskap wat Monique aan haar pa gestuur het.

Die boodskap wat Monique aan haar pa gestuur het.

Danksy ʼn tiener se vinnige optrede moes twee aanvallers Donderdagmiddag vinnig die hasepad kies toe hulp onverwags opgedaag het terwyl hulle haar grootouers in hul huis in Florida, Roodepoort aangeval het.

Marius Croucamp, die tiener se pa, het Vrydag aan Maroela Media gesê sy dogter Monique (16), was ná skool by haar oupa Attie Croucamp (79) en ouma Anna (74) se huis toe twee mans hulle omstreeks 15:40 oorval het.

“Ons vermoed hulle het oor die palissade-heining geklim,” het Croucamp gesê. “My pa het in die tuin gewerk en was in en uit die huis. Toe hy weer sien het die twee mans hom in die huis oorweldig.”

Die aanvallers het nie vir Monique gesien nie. Hulle het Attie en Anna se selfone gevat en hulle in hul kamer aangehou en met skêre gedreig. Die egpaar is albei aangerand terwyl die aanvallers aangedring het op geld en juwele.

“Een van die mans het my pa se vinger tot die been toe oopgebyt in ʼn poging om sy trouring te kry. Hulle wou my ma in ʼn stadium wurg. Sy kon darem haar hande op haar radio kry en het een van die aanvallers hard oor die kop geslaan daarmee.”

Die polisie en nooddienste by die Croucamp-egpaar se huis.

Die polisie en nooddienste by die Croucamp-egpaar se huis.

Monique het intussen gaan wegkruip en ʼn WhatsApp-boodskap aan haar ma en pa gestuur. Haar ma het dadelik die polisie en haar seun Adriaan (19) ontbied.

“My seun en die polisie het kort daarna gelyktydig by die huis aangekom. My seun het buite die hek op sy motorfiets se toeter gedruk,” het Croucamp bygevoeg.

Die mans het besef daar is mense by die hek en het te voet van die toneel gevlug. Hulle het onder andere geld, selfone en ʼn brood gebuit.

Attie en Anna is na die Life Flora Clinic geneem vir mediese behandeling, en is reeds ontslaan. Hulle het verskeie beserings tydens die aanranding opgedoen en is getraumatiseerd. Monique is ongedeerd, maar ook getraumatiseerd.

Marius is vol lof vir die polisie wat vinnig op die toneel was, en hulle bygestaan het.

Die polisie ondersoek die saak. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Johan ·

Hulle het die brood gevat sodat hulle agterna kan sê hulle was honger. Lahartige goed wat oumense aanval.

Christine ·

Alle eer aan Monique wat haar kop gebruik ht!! Mooi so my meisie! Dankie Sap en broer ook!

Riaan Slabbert ·

En die polisie staan voor die huis met die blixems binne, en kan hulle nie vang nie….

Hannelie ·

Word mense, soos die arme meneer Croukamp, wat deur die vuilgoed gebyt is, nog met Anti-retrovirale middels behandel? En wie sou daarvoor betaal?

Drieks ·

Ek sé ook die regering moet ons almal wat deur misdaad skade het vergoed….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.