Tiener ontkom ternouernood ná aanval met gholfstok, panga

Keagan Visagie (17). (Foto: Verskaf/ANA)

ʼn Tiener van Kaapstad het die dood vrygespring toe drie mans hom met ʼn gholfstok en ʼn panga in Abbotsdale, net buite Malmesbury, aangeval het.

Keagan Visagie (17) het saam met sy ma, Jacqueline Visagie, en sy twee neefs, onderskeidelik 15 en 16 jaar oud, vir sy sieklike oupa in die Abbotsdale-omgewing gaan kuier toe hy oorrompel is.

“Ek het by my pa gaan kuier, maar het Woensdag [13 Januarie] vertrek en die seuns daar gelaat om te verseker dat my pa eet,” sê Keagan se ma.

“Die seuns is omstreeks 23:30 aangeval.”

Visagie sê haar peetkind het haar gebel en gesê dat Keagan aangeval is en inderhaas na ʼn hospitaal geneem is.

“Volgens die seuns het ʼn meisie vroeër die aand vir water kom vra. Sy het toe by die huis ingekom, maar een van die seuns het vir haar gesê sy kan nie net inloop nie en haar uitgestoot,” sê sy.

Die seuns het later voor die huis gesit om af te koel toe hulle drie gewapende mans in die pad sien afstap het.

“Hulle het weggehardloop, maar Keagan se knie het ingegee omdat hy verlede jaar ʼn groot knieoperasie ondergaan het. Hy het hulle gevra wat hy gedoen het toe hulle hom met ʼn gholfstok in sy nek begin slaan het. Hy is ook met ʼn panga geslaan.

“ʼn Vrou in die straat het begin skreeu net toe hulle hom op sy kop wou slaan en die mans het weggehardloop. Sy is na Keagan toe en hy het by haar gepleit om ʼn ambulans te ontbied en sy gesin te bel,” sê Visagie.

Keagan is na die Swartland-hospitaal geneem en daarna na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas.

“Keagan het steke in sy gesig en sy hand is met ʼn panga gekap. Hy het senuwee-skade aan sy linkerhand opgedoen, maar sy duim kon gelukkig weer geheg word. Hy het Maandag sy tweede operasie ondergaan, maar hy gaan dalk nog operasies benodig.

“Hy is uiters getraumatiseerd, maar ons sal hom vir berading neem.”

Keagan se neefs is ook geskok ná die voorval.

Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig dat drie verdagtes intussen in verband met die voorval in hegtenis geneem is. Die verdagtes van 20, 28 en 29 jaar oud het reeds in die Malmesbury-landdroshof verskyn op aanklag van poging tot moord.

Hulle bly in aanhouding.

Visagie sê om haar seun se aanvallers in die hof te sien, het haar gebreek.

“Toe ek hulle in die hof sien, het ek in trane uitgebars. Jy kon op hul gesigte sien dat hulle geharde misdadigers is.

“Ek kan my net indink wat my kind moes deurgaan tydens die aanval. Ons wil net geregtigheid sien geskied.”

Die verdagtes sal na verwagting Donderdag aansoek doen om borgtog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Casper

Keagan het as 17 jarige nou self kennis gemaak met die geweld in ons land.Hy lyk na ‘n ordentlike seun en ek hoop hy word gou gesond.Ek glo die berading gaan help met sy emosionele herstel.

Alta Alleman

Skokkend om nog ‘n berig te lees oor hoe agteruit hierdie land se mense gaan met geweld. Dit lyk my dis nou die nuwe norm.

Mariana

Geweld voer die bo-toon in hierdie land. Kriminele loop vry rond, maar onskuldiges word in hegtenis geneem. Kinders word aangeval vir geen rede, alhoewel ek dink in hierdie geval het daai meisie iets te doen met dit.

Hoekom

Niemand skrik vir die polisie nie, loop in die straat af as bendes met pangas maar laat jy nou net vroeg in die oggend as noodgeval moet hospitaal toe om melk te koop vir jou baba dan is die polisie op jou!!

Tanya

Ek sé nog al die jare die kriminele moet gestraf word op presies dieselfde wyse as wat hulle slagoffer “gestraf” is.