Tiener pak pretloop in rolstoel ná glykabel-val

Carmen Botha het op 16 Junie 2016 aan 'n pretloop in Centurion deelgeneem. Foto: Verskaf

Carmen Botha het op 16 Junie 2016 aan ‘n pretloop in Centurion deelgeneem. Foto: Verskaf

Vyf maande nadat Carmen Botha (14) sowat 15 meter ver van ʼn glykabel geval en daardeur verlam gelaat is, het sy Donderdag met rolstoel en al aan ʼn pretloop in Centurion deelgeneem.

Gerna Botha, Carmen se ma, het aan Maroela Media gesê Carmen het besluit om Jeugdag saam met familie en vriende deur te bring wat saam met haar die 5 km aangepak het. “Ons het ʼn uitstappie daarvan gemaak en dit was vreeslik baie pret vir ons almal. Sy het heelpad lekker geselskap gehad om die ondervinding vir haar lekker te maak,” het Gerna gesê.

“Carmen het nog nooit in haar lewe aan ʼn pretloop of straatwedloop deelgeneem nie en hier doen sy sommer haar heel eerste een in haar rolstoel. Sy was gisteraand pootuit, maar het die hele ent hulp gehad en daar was mense wat haar aangemoedig het. Ander deelnemers het met tye sommer haar rolstoel so in die hardloop gegryp en ʼn entjie met haar gedraf. Ons sal weer so iets aanpak.”

Maroela Media het vroeër berig Carmen het ernstige beserings opgedoen toe sy op ʼn skoolkamp van ʼn glykabel (foefie-slide) geval het. Haar lewer en milt is geskeur, van haar ribbes is gebreek en het deur haar long gesteek, twee van haar werwels is gebreek, ʼn bloedvat in haar dermkanaal het geskeur en sy het ʼn haarlynfraktuur aan haar skedel opgedoen.

Carmen Botha het op 16 Junie 2016 aan 'n pretloop in Centurion deelgeneem. Foto: Verskaf

Carmen Botha het op 16 Junie 2016 aan ‘n pretloop in Centurion deelgeneem. Foto: Verskaf

Ná maande in die hospitaal is Carmen nou besig met ʼn rehabilitasieprogram wat agt weke duur in die Muelmed-hospitaal in Pretoria waar sy intensiewe fisioterapie, arbeidsterapie en berading ontvang.

“Sy is nog steeds paraplegies en steeds van dialise afhanklik, maar dit gaan baie goed met haar,” het Gerna gesê. “Hulle help haar nie net om haar bolyfspiere en ondersteuningspiere in haar buik en rug te versterk nie, maar leer haar al die nodige rolstoelvaardighede sodat sy so onafhanklik as moontlik kan wees.”

Volgens Gerna is daar nog geen teken dat Carmen weer sal kan loop nie, maar is die gesin vasbeslote om haar te help om met haar rolstoel so normaal moontlik met haar lewe aan te gaan. “Ons almal het aanvaarding dat sy dalk nooit weer sal kan loop nie en pas nou aan by die situasie. Dit help nie sy lê net vir ʼn jaar op haar rug en wag op verbetering nie. Sy moet nou leer om met die rolstoel oor die weg te kom,” het sy gesê.

“Carmen het vir my gesê sy het verstandelik aanvaar dat sy nie weer sal kan loop nie, maar emosioneel nog nie. Dit is ook waarom sy sielkundige ondersteuning kry, sodat sy hierdie hoofstuk van haar lewe ten volle kan aanvaar.”

Carmen sal na verwagting in September terugkeer na haar skool in Centurion en probeer om soveel as moontlik skoolwerk wat sy agtergeraak het in te haal. “Ons fokus vir eers op die kernvakke soos Afrikaans, Engels, wiskunde en wetenskap. Wanneer sy eers terug is by die skool sal ons kyk hoeveel sy sal kan inhaal.”

Lees alle vorige berigte oor Carmen Botha op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

johann cb ·

Welgedaan Carmen, jy is ‘n ware inspirasie vir ons! Sterkte!

Go superstar ·

Go Superstar, ek is so trots op jou dat jy opstaan oftewel sit en jou ding doen, leef en doen so voort, jy is ‘n inspirasie!!!!!!!!!!!!!!!!

Zena ·

Carmen, ek is trots op jou. Vir jou ouderdom is jy n baie sterk persoon. Sterkte aan jou en jou familie met die pad vorentoe. Wees sterk en vertrou. die pad gaan nie maklik wees nie, maar jy het al die liefde van jou familie en vriende. Duisend soene van ons almal hier in pretoria.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.