Tiener red eenjarige wat byna verdrink

Klein Wilmari du Toit (1). (Foto: Verskaf)

Was dit nie vir die heldedaad van ʼn 15-jarige meisie nie, sou ʼn babadogtertjie van Uvongo in KwaZulu-Natal dalk nie Sondag haar eerste verjaardag gevier het nie.

Leané Nordje het koelkop gebly en dadelik noodhulp toegepas nadat haar susterskind, Wilmari du Toit (1), Vrydag in die swembad by haar ouerhuis geval het.

Volgens Leané se pa en Wilmari se oupa, Jan, het die voorval ongeveer 18:00 op die betrokke dag plaasgevind.

Die Du Toit’s en Nordje’s woon saam op dieselfde perseel en was besig om toestelle in en om die huis aan te skakel nadat beurtkrag vroeër die dag ingestel is.

“Dit het bitter vinnig gebeur,” het Jan Maandag aan Maroela Media gesê.

Hy was die eerste een wat opgemerk het dat “iets in die water dryf” en het aanvanklik gedink dis ʼn lyfplank. Die hekkie wat van die huis na die swembad lei is gewoonlik toe en boonop is klein Wilmari altyd in hulle sig.

“Sy is die bedorwe brokkie in die huis en word nooit alleen gelaat nie. Dit het regtig so vinnig gebeur. Ons weet ook nie waarom die hekkie oop was nie.”

Jan het aan die gil gegaan toe hy besef dis sy kleindogter. Haar ma, Juan-Mari (21), was eerste by Wilmari en het haar dadelik uit die swembad gehaal.

Leané Nordjé by haar susterskind, Wilmari (1). (Foto: Verskaf)

Leané, wat verskriklik geheg is aan haar susterskind, het minute vroeër van ʼn boksklas by die huis aangekom en haar dadelik na buite gehaas en noodhulp begin toepas.

Sy is ʼn gr. 10-leerder by Suid-Natal Port Shepstone en het ʼn vlak 1-noodhulpkursus by haar skool voltooi.

“Sy het geweet wat om te doen en dadelik in reddingsmodus gegaan. Sy was baie kalm terwyl ons histeries was,” sê Jan.

Wilmari was in dié stadium bewusteloos en reeds blou in die gesig. Haar pap, lewelose lyfie is ʼn beeld wat die twee gesinne nie sommer uit hul koppe sal kry nie.

“Leané het mond-tot-mond-asemhaling op Wilmari toegepas en met haar twee vingers op haar borsie gedruk totdat sy bygekom het. Ons was so verlig toe haar ogies groot oopgaan en sy begin stik. Almal het begin huil – van skok en verligting.”

Nooddienswerkers was kort daarna op die toneel en het Wilmari na ʼn hospitaal geneem vir verdere ondersoeke. Nooddienswerkers het Leané geprys en gesê sy het alles reg gedoen.

X-strale het ook bevestig dat Wilmari net ʼn ligte longinfeksie het en dat geen permanente skade aangerig is nie.

“Ons was so bekommerd. Ons het nie geweet wat om te verwag en of sy dalk breinskade opgedoen het nie. Soveel goed maal deur ʼn mens se kop.”

Die familie kon egter op Moedersdag Wilmari se eerste verjaardag saam met vriende en familie vier.

“Ek is so dankbaar teenoor God dat daai meisiemens vandag nog saam met ons is. Dis ʼn verskriklike groot wonderwerk. Ons het regtig gedink sy is dood.

“Sy is Sondag van een arm na ʼn ander aangegee – niemand wou haar neersit nie.”

Jan is ook uiters trots op sy jongste dogter se vinnige, kalm optrede.

Leané Nordjé en haar susterskind, Wilmari du Toit (1), is baie geheg aan mekaar. (Foto: Verskaf)

“Leané is self ʼn wonderwerkbaba. Seretha [haar ma] het destyds kankerbehandeling ondergaan en daar is vir haar gesê dat sy nie nog kinders sal kan hê nie. Leané is ook baie vroeg gebore.

“Sy het al baie gewonder wat haar doel op aarde is met dié dat die swangerskap en alles so moeilik was – ons weet nou dat sy hier moes gewees het om Wilmari se lewe te red.”

Leané wil boonop eendag ʼn lugwaardin of ʼn paramedikus word, vertel haar pa.

Die familie het die hek wat na die swembad lei intussen heeltemal gesluit. Hulle gebruik ook nie meer die deel van die huis wat na die swembad lei nie. Leané is boonop Maandag by die skool in kennis gestel dat iemand ʼn net vir die swembad gaan skenk.

Wilmari se ouers, Juan-Mari en Willie, wil ander ouers nou waarsku oor hoe vinnig só ʼn ongeluk kan gebeur en wil hulle opnuut omtrent swembadveiligheid bewus maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tanya ·

Pragtig! Knap gedaan meisie, jy verdien om geprys te word….

KaRoOkWaGgA ·

Welgedaan. Ons lof aan ons Skepper wat Leané onder die omstandighede kalm gehou het en haar die vermoë gegee het om die familie die hartseer en verwyd te spaar wat kon volg. Niemand kan regtig vir so iets blameer word nie, want dit gebeur bitter vinnig.

Papsak ·

Pragtig goed van jou om so mooi ou poppie te red groot dankie vir jou

Faraway ·

Aan GOD kom alle lof en eer toe vir SY GROOT GENADE hierin!!!

Darts girl ·

Ek is baie bly vir julle dat sy nog leef en dat sy geen ernstige skade opgedoen het nie, verder wil ek vir Leane prys vir haar vinnige reaksie en dat sy koelkop gebly het tydens die situasie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.