Tiener se oom vas vir moord

boeie-4.jpg

Argieffoto

Die liggaam van ʼn 15-jarige meisie is verlede Woensdag onder ’n bed in ʼn huis in Delmas in Mpumalanga aangetref nadat die meisie vir byna ʼn week vermis was. Haar 37-jarige oom het Maandag in die Delmas-distrikshof verskyn op aanklag van moord.

Volgens brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie, het die meisie se familie haar verlede Dinsdag, ʼn dag voordat haar liggaam gevind is, by die Delmas-polisiestasie as vermis aangemeld. Die meisie is al sedert Vrydag 21 Februarie vermis.

“Ná een dag het die familie begin bekommerd raak, omdat sy nog nooit so lank weg was sonder om met hulle kontak te maak nie,” sê Hlathi. Die familie het haar vriendinne gekontak, maar niemand het geweet waar sy was nie.

Die meisie se oom, wat op daardie stadium saam met hulle in die huis gewoon het, was glo ook sedert die meisie se verdwyning nêrens te vinde nie.

Teen Dinsdag het al die familielede begin soek na die meisie. Een van die familielede het iets ongewoons in die huis geruik. “Die familielid het nie veel daarvan gedink nie, omdat die huis vir ʼn ruk lank nie skoongemaak is nie terwyl die ma van die meisie in die hospitaal was,” sê Hlathi.

Die meisie se ma het die huis begin skoonmaak en haar dogter se liggaam, wat besig was om te ontbind, onder haar bed gekry.

Volgens Hlathi is die meisie se oom later in ʼn informele nedersetting in Delmas gevind. Die polisie het hom polisiestasie toe geneem vir ondervraging.

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat die man voorheen daarvan beskuldig is dat hy ʼn ander jong meisie in Gauteng in 2007 verkrag en wreed met ʼn skerp voorwerp gesteek het. Voordat hy haar gesteek het, het hy haar met ʼn kombers bedek. Hy is nog nie vir hierdie voorval aangekla nie.

Hlathi sê daar is verder gevind dat ʼn lasbrief vir die man se inhegtenisname uitgereik is vir ʼn saak wat in 2006 plaasgevind het waar hy vermoedelik in besit van gesteelde goedere was.

Die man se hofsaak is tot 9 Maart uitgestel vir ʼn formele borgtogaansoek.

In ʼn ander voorval is ʼn 21-jarige ma van Limpopo Woensdag in hegtenis geneem vir die moord op haar twee weke oue baba. Sy het die babaseuntjie se liggaam in ʼn vlak graf digby die Mutsha Tshirangadzi- informele nedersetting begrawe.

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder, sê die ma het na bewering Sondag haar babaseuntjie na die plaaslike kliniek geneem. Sy is die volgende dag op dieselfde plek met haar baba gesien, maar die dag daarna was die baba nêrens te sien nie. Lede van die gemeenskap het agterdogtig geraak dat iets met die baba kon gebeur het.

Mojapelo sê die vrou het die polisie vertel haar baba het siek geword en daarom moes sy hom na die kliniek, en later die plaaslike hospitaal, neem. Sy beweer die baba is daarna dood en dat sy liggaam in ʼn rivier in die omgewing gegooi is.

Die polisie se soek-en-reddingseenheid kon nie die liggaam in die rivier vind nie en het later die vlak graf, waar die baba begrawe was, gevind.

Die ma verskyn Vrydag in die Vuwani-landdroshof op  aanklag van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Agge nee ·

Klagte van 2007, 2006 nog nie aangespreek nie? Duidelik is wrede aanval en verkragtig nie so erg as om iemand in ‘n kis te prop nie. As hierdie man met dieselfde dryfkrag vervolg was, was die kind nie vandag dood nie.

Anel ·

Hoekom hoegenaamd borg toestaan? Moord, verkragting, gewapende roof, alle geweldadige misdade, geen borg!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.