Tiener skiet homself met oupa se wapen

Argieffoto: Kent Williamson

Die polisie in Limpopo doen ’n geregtelike doodsondersoek nadat ’n tienerseun klaarblyklik vandeesweek met sy oupa se vuurwapen selfmoord gepleeg het. Dít volg maar ’n dag nadat hy uit sy skool geskors is.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het Vrydag in ’n verklaring gesê Glen Mboweni (18) het homself Donderdag omstreeks 11:00 in ’n nedersetting buite Tzaneen om die lewe gebring.

Volgens Mojapelo is Mboweni ’n dag vantevore uit die skool geskors, nadat hy na bewering ’n medeleerder aangerand het.

Luidens die verklaring het ’n familielid op Mboweni se liggaam in een van die vertrekke van ’n huis in die Mhlaba Cross-nedersetting afgekom. Die polisie is na die toneel ontbied, waar polisiebeamptes die oupa se vuurwapen langs die tienerseun se liggaam aangetref het.

Polisiebeamptes het op die vuurwapen beslag gelê.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale polisiehoof, het gevolglik ’n ondersoek na die voorval, asook die hantering van die betrokke vuurwapen van stapel gestuur.

Volgens Ledwaba maak die bepalings van die Wet op die Beheer van Vuurwapens voorsiening vir die veilige bewaring van vuurwapens. “Dit sit ook die wegdoeningsprosedure van ’n vuurwapen uiteen, in die geval waar die eienaar van die vuurwapen sterf. Dit is om te verhoed dat die vuurwapen in verkeerde hande beland,” het die polisiehoof verduidelik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sarel ·

” om te verhoed dat die Vuurwapen in verkeerde hsnde beland” ??

christo ·

Spyt kom te laat. Die oupa ís nou verantwoordelik vir die gemors wat die kind gemaak het. Die kind het gewéét dat alles wat hy die gedoen het onaangename nagevolge vir ander gaan hê. Uiters selfsugtig. Grootouers het net nie meer lus om ongedissiplineerde kleinkinders groot te maak nie.
Ek weet – ek is ‘n adjunkhoof verantwoordelik vir ‘ dissipline ‘ by ‘n skool waar die tipe aanrandings ens. gebeur. Oumas en Oupas kom raad-op na my kantoor want kleinkinders word net ‘ge-dump’ deur ouers wat die kindertoelaag vir hulle self vat.

Danie ·

Die laaste paragraaf laat my dink die oupa lewe nie meer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.