Tiener ‘stabiel’ ná gevaarlike gewas verwyder is

Hanru Pienaar (Foto: Verskaf)

Lizette Pienaar, ’n ma van Johannesburg, het onverpoos aanhou bid nadat ʼn gewas die afgelope week langs haar 13-jarige seun, Hanru Pienaar, se nier ontdek is.

Hanru is verlede Sondag in die hospitaal opgeneem nadat hy erge hoofpyne begin kry en onophoudelik opgegooi het.

Twee dae later het die dokters ontdek dat Hanru ’n gewas langs sy regternier het wat moontlik sy bloeddruk erg verhoog en bloeding op sy brein veroorsaak het. Die gewas is gister (Sondag) suksesvol verwyder en dié klein vegtertjie is tans stabiel, maar steeds onder verdowing en aan ’n ventilator gekoppel.

Pienaar vertel Hanru het verlede Sondagaand (10 Januarie) van vreeslike hoofpyn gekla en begin opgooi. Sy het vir hom medikasie vir die pyn en naarheid gegee, maar dit het nie gehelp nie. Sy het toe vir hom ’n setpil gegee, wat hom vir ’n wyle beter laat voel het.

Lizette het omstreeks 23:00 by hom gaan inloer en gesien dat hy in sy bed opgegooi het. Kort daarna het sy met hom na die Netcare Waterfall City-hospitaal in die stad gejaag.

Volgens Lizette het mediese personeel aanvanklik gedink dat hy breinvliesontsteking onder lede het. Hulle wou Hanru vir dringende toetse stuur, maar hy kon nie dadelik opgeneem word nie omdat die gesin nie ’n private mediese plan gehad het nie.

Lizette het haar vaste inkomste in Maart verlede jaar verloor weens die Covid-19-inperking en kon nie meer haar mediese fonds bekostig nie. Sy en haar twee seuns, Hanru en Lian van Deventer (19), woon by haar suster, Juanita Pienaar, aangesien sy nie meer haar woning se huur kon bekostig nie.

Die hospitaal het al die staatshospitale in die omgewing gebel om Hanru so spoedig moontlik op te neem, maar nie een van dié hospitale het ’n bed beskikbaar gehad nie weens die toeloop van Covid-19-pasiënte.

“Ons het ons nabye familielede gekontak en gevra om ons te help om genoeg geld in te samel om Hanru in die Waterfall-hospitaal te laat opneem omdat ons weet dat breinvliesontsteking lewensgevaarlik is en dat die dokters vinnig moet optree,” vertel Lizette.

Die familie kon daarin slaag om genoeg geld in te samel om Hanru in dié private hospitaal te laat opneem.

Terwyl die dokters toetse uitgevoer het, het hulle bevind dat Hanru bloeding op die brein gehad het.

Hanru in die hospitaal (Foto: Verskaf)

“Dit was ’n totale skok vir ons, want hy het geen kopbesering onlangs opgedoen nie. Die dokters kon later ook bepaal dat die bloeding nie deur ’n besering veroorsaak is nie.”

Hanru het die Maandag in die intensiewesorgeenheid deurgebring terwyl die dokters hom probeer stabiliseer het. Hy was in ’n geïnduseerde koma en op ’n ventilator geplaas om die swelling op sy brein en die drukking op sy hart te verminder.

Die dokters het Dinsdag die gewas op ’n baie delikate plek, langs sy regternier, ontdek. Die gewas was 2,5 cm in deursnee en was volgens dokters die oorsaak van Hanru se olikheid.

Hanru het dieselfde aand twee breinoperasies ondergaan om die drukking en bloeding op sy brein te verlig. Hy het vroeër die dag boonop ’n beroerte gekry wat die linkerkant van sy liggaam verlam het.

Lizette wag nou dat hy onder verdowing uitgebring word. Lizette sê sodra hy wakker word, sal die dokters kan bepaal of die beroerte permanente skade veroorsaak het. Sy is wel hoopvol omdat hy al intussen sy linkerbeen en -arm beweeg het.

Dié besorgde ma vertel dat sy ’n warboel van emosies die afgelope week beleef het, maar sy het nie een keer hoop verloor nie.

Hanru (links), sy broer Lian en Lizette (Foto: Verskaf)

“Ek het my geloof en hoop in God geplaas en dit is ’n wonderwerk dat my kind leef. Als was net genade.”

Kort voor hierdie nagmerrie, is Lizette se ma, Joyce Pienaar, met maagkanker gediagnoseer. Boonop is Lizette se beste vriendin drie weke gelede aan borskanker dood.

Vriende van Lizette het fondsinsameling-inisiatiewe van stapel gestuur om Hanru se enorme mediese rekeninge te betaal en haar finansiële las in hierdie moeilike tyd te help verlig. Die liefdadigheidsorganisasie Caring Daisies het ook intussen betrokke geraak en help om geld in te samel.

Lizette sê sy is baie dankbaar vir almal wat finansieel bygedra het en vir almal se gebede. Sy wil ook die hospitaal en personeel bedank vir al hul hulp en ondersteuning.

“Ek het die finansies voor die Here se voete neergesit en vertrou Hom ten volle daarvoor.”

Besoek Hanru se Facebookblad om meer oor sy reis te lees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

4ntj13 ·

Sterkte, mensies!
Ek bid dat daar genoeg geld sal kom om ook te bepaal watse tipe gewas dit was, en om séker te maak dit pla hom nooit weer in sy lewe nie. Ek hoop die bloeding-beroerte klaar gou op. Gewoonlik hoef hierdie tipe darem nie baie permanente skade te los nie. Mens skrik groot as dit met ʼn kind gebeur, en die geldprobleem het dinge onnodig laat sloer. Dankie dat julle dit alles deel sodat ander wat dieselfde oorkom beter voorbereid mag wees. Ek bid ook dat ons Here vir ons meer en meer uitkomste sal gee in moeiliker tye wat voorlê.

Sara ·

Baie sterkte vir julle. Prys die Here vir die ma se groot geloof en dat Hy vir Hanru styf vashou en beskerm.

Sandra ·

Ek bid vir julle vir sterkte en vir u seun se gesondheid en vir julle om finansiele verligting te kry.

JM ·

Lizette, ek bid vir Hanru vir volkome herstel, asook vir jou vir krag en versterking van jou geloof. Mag Hy in al jou behoeftes ruim voorsien.

Annette ·

Ek is baie dankbaar saam met julle dat Hanru gehelp kon word. Lizette, jy het jou finansies en jou kind voor die Here se voete gesit en weet net, niks is vir Hom onmoontlik nie. Hou vas aan jou geloof en hoop. Ek bid vir Hanru se volkome herstel. Baie sterkte vir jul gesin.

LANA is ELANè ·

Sjoe, 123 die lewe is so delikaat en niks is vanselfsprekend nie, ek is bly dat die vrou se geloof in die Here geanker is en dat mense wat omgee bereidwillig was om haar te help. Ek bid vir die mooie seuntjie, sy ma en sy broer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.