Tiener sterf dae ná skokvoorval

Matthew Cockrell, ’n gr. 9-leerder aan Hoërskool Bellville in die Wes-Kaap, is Vrydag ná ’n skokvoorval in Desember dood. (Foto: Facebook / Hoërskool Bellville)

Matthew Cockrell, ’n gr. 9-leerder aan Hoërskool Bellville in die Wes-Kaap, is Vrydag dood nadat hy op 26 Desember verlede jaar deur ’n elektriese koord geskok is.

Luidens ’n inskrywing op sy stiefma, Lizelle, se Facebook-blad het die tiener se hart ná die voorval gaan staan en het dit dokters 12 minute geneem om ’n pols en hartklop te vind. Matthew was sedertdien in die hospitaal waar hy ook onder verdowing geplaas is. Dit is egter nie duidelik of hy ooit sy bewussyn herwin het nie.

’n Hartgebroke Cockrell het Vrydag op Facebook aangekondig dat haar stiefseun nou sy “engelvlerke gekry het en by God is”.

“Dankie vir elke gebed wat vir hom opgestuur is. Onthou hom vir die wonderlike vriend en mens wat hy was. Rus sag Matthew,” lui die plasing wat saam met ’n foto van Matthew gedeel is.

Die skool het Matthew se dood ook op sy Facebook-blad betreur.

“Hoërskool Bellville gaan jou mis en jy laat ’n groot leemte in die Leeu-familie.

“Ons harte is gebreek ná die nuus van die tragiese dood van hierdie pragtige seun en gr. 9-leerder van ons skool. Mag God die bedroefde ouers, familie en vriende van Matthew deur hierdie moeilike tyd dra en vertroos. Die beheerliggaam, hoof en personeel wil ons innige simpatie en diepste medelye teenoor die ouers, gesin, familie en vriende uitspreek.”

*Die berig is aangepas sedert dit die eerste keer gepubliseer is – Red.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pampoen ·

Lyk soos n goeie seun. Baie jammer vir vriende en familie, veral aan die ouers.

Nettie ·

Hartseer nog so jonk sterkte aan die ouers familie en vriende.

Charlene ·

My hart breek vir julle. Mag die Here julle dra. En die geraas van die samelewing vir eers effens uitdoof. Baie sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.