Tiener sterk aan ná motorfietsongeluk; ma jubel

Deacon du Plessis

Deacon du Plessis is ernstig beseer nadat hy met sy Honda CBR1000RR Fireblade-motorfiets in ’n botsing betrokke was. (Foto: Verskaf)

Deacon du Plessis, die 17-jarige gr. 11-leerder aan Hoër Tegniese Skool Witbank wat die afgelope naweek in ’n ernstige motorfietsongeluk beseer is, het uit sy kunsmatige koma wakker geword en op dokters se vrae aan hom gereageer.

Só sê sy ma, Joy, wie sy hart “van blydskap oorloop” oor die goeie vordering wat haar seun maak.

Hy het ook reeds ’n operasie aan sy regterbeen, wat tydens die ongeluk gebreek is, ondergaan.

“Deacon is nog steeds onder verdowing, maar het wakker geword. My kind het wakker geword.

Deacon se motorfiets ná die ongeluk. (Foto: Verskaf)

“Dokters het aan hom gevra of hy weet hy is Deacon du Plessis waarop hy sy kop ‘ja’ geskud het en toe dokters vra of hy enige pyn ervaar, het hy sy kop ‘nee’ geskud,” sê Du Plessis.

Deacon slaap in dié stadium weer, maar volgens Du Plessis sal die verdowing moontlik oor die naweek heeltemal gestaak word.

“Hy reageer goed op sy behandeling en word tans stelselmatig van die asemhalingspype waaraan hy gekoppel is, gespeen. Sy bloeddruk is ook stabiel.”

“Ons kan net dankie sê vir Jesus en almal wat saam met ons bid.”

Deacon is ’n gr. 11-leerder aan die HTS Witbank en ’n kranige potspeler. (Foto: Verskaf)

Maroela Media het vroeër berig dat Deacon, ’n kranige potspelspeler, Vrydagaand by ’n vriend oorgeslaap het nadat hulle vir ʼn potspelligawedstryd wat Sondag plaasgevind het, geoefen het. Deacon het provinsiale kleure in dié sportsoort en was besig om vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap in die Wes-Kaap later vanjaar voor te berei.

Du Plessis het vroeër aan Maroela Media gesê Deacon was Saterdag omstreeks 10:00 op pad huis toe toe ʼn motor glo in Monastraat in eMalahleni ingedraai en teen Deacon se Honda-motorfiets gebots het.

Hy is tans in die Witbank-staatshospitaal waar hy volgens sy ma baie goeie versorging kry.

Deacon as sewejarige. (Foto: Verskaf)

Volgens Du Plessis het Deacon ook skade aan sy niere opgedoen waarvoor hy tans medikasie ontvang. Dokters het hom egter Woensdag van spierverslappingsmedikasie afgehaal waarna hy sy groottoon en hand beweeg het.

Du Plessis sê Deacon het as sewejarige begin motorfiets ry en dat sy ysterperd sy trots was.

Die voorval is by die polisie aangemeld en die gesin het reeds ’n saaknommer ontvang. Die polisie het egter nog nie op Maroela Media se navraag reageer nie.

Dit is in dié stadium onduidelik of iemand vir die ongeluk aanspreeklik gehou gaan word.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Willem ·

Bly hy is besig om gesond te word. Sterkte aan sy ouers en aan hom.

Naomi ·

Baie goeie nuus …ons dien n groot en Almagtige Vader,..sterkte aan famile

Johan ·

Baie jammer om te hoor hoop die laaitie het n lesensie op 17 vir daai fiets…

Smoothie ·

Die seun is 17jr oud en hy ry ‘n 1000 CC motorfiets. Indien dit so is, -het hy nie ‘n geldige Leerlinglisensie of Bestuurslisensie in Suid-Afrika nie. Versekering nie veronderstel om te betaal nie en aanspreeklikheid begin by wettige dokumentasie. Groete

Manie ·

Dit is baie erg!
Maar nouja ‘n 17 jarige op 1000 cc Fireblade ? Nie ‘n goeie kombinasie nie. Ouers moet verantwoordelik optree.
My opinie.

Bittergal ·

n’ 1000cc is totaal nie reg vir ‘n kind nie. Ek ry self ‘n nuwe generasie 1000 Superbike, 200 kPu in 2e rat is die norm, met nog 4 om te gaan. Jy moet eers kruip voor jy kan loop..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.