Tiener tronk toe vir moord

jail_bars’n Tienerseun is Maandag in die Wes-Kaapse hooggeregshof tot 24 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy die Kaapse leerling Glenrico Martin doodgeskiet het.

Wilston Stoffels het as deel van ʼn pleitooreenkoms skuldig gepleit op aanklagte wat met bende-aktiwiteite verband hou, moord en die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Stoffels het erken dat hy en sy medebeskuldigde, Jevon Snyman, deel was van die Young Americans-bende. Hy het aan die hof gesê dat senior lede van die bende hom verlede jaar beveel het om Martin (17) dood te maak aangesien laasgenoemde lid was van ʼn vyandige bende. Stoffels sê hulle het op 15 Mei 2013 na die Spes Bona Sekondêre Skool in Athlone met ’n vuurwapen gegaan. “Ek erken dat terwyl beskuldigde twee [Snyman] en ek by die skool was daar ʼn taxi aangekom het en dat ek gesien het hoe die oorledene en ander leerlinge uit die taxi klim. Ek erken dat ek toe ʼn skoot op die oorledene afgevuur het en hom in die kop geskiet het.” Stoffels was 18 jaar oud ten tyde van die voorval en Snyman was 19 jaar oud. Regter John Hlophe het Stoffels tot 24 jaar tronkstraf gevonnis vir moord, sewe jaar vir bendeverwante oortredings, drie jaar vir die onwettige besit van ʼn vuurwapen en een jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word. Die feit dat die Wes-Kaap ʼn bendeprobleem het en dat Martin op die skoolgrond doodgeskiet is, is as verswarende faktore tydens vonnisoplegging aangevoer. Die hof het egter ook in ag geneem dat Stoffels berou het oor sy dade en dat hy ʼn eerste oortreder is. Snyman sal waarskynlik ook ʼn pleitooreenkoms aangaan. Sy saak is tot 17 April uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rentia ·

Mag hierdie vonnis ‘n afskrikmiddel wees vir al hierdie bendelede, en sommer die gewoonte-misdadigers wat geneig is om moord te pleeg.

Goeie uitspraak!

Matthys Taljaard ·

Bring net die doodstraf deur en daar gaan verandering in misdaad wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.