Tiener verdrink by Melkbosstrand

Foto: Twitter via @LimaCharlie1

ʼn Tienerseun het Dinsdagoggend in die see by Melkbosstrand in die Wes-Kaap verdrink.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, het gesê by paramedici se aankoms op die toneel was die seun reeds uit die water gebring. Lewensredders en bemanning van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) was besig om mond-tot-mond-asemhaling op die 17-jarige seun toe te pas.

Paramedici het by hulle oorgeneem en alles in hul vermoë gedoen om die seun by te bring. Hy is ná ʼn ruk na ʼn nabygeleë hospitaal gehaas waar hy dood verklaar is.

Meer besonderhede rondom die voorval was nie onmiddellik bekend nie.

Die seun is een van talle mense wat die afgelope feesseisoen op verskeie strande aan die kus verdrink het. Die Stad Kaapstad het gesê van 1 Desember 2017 tot 1 Januarie 2018 is daar minstens tien verdrinkings aangeteken net by dié stad se strande.

Die Stad het gesê veiligheidsowerhede sal voortgaan om strande en ander openbare plekke oor die volgende paar weke te monitor terwyl die skoolvakansie nog aan die gang is en vakansiegangers na verwagting voordeel sal wil trek uit die warm weer wat voorspel word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Rabes ·

Dis ‘n groot jammerte dat soveel mense gedurende die kersseisoen sterf. Die groot probleem is die mense kan nie swem nie.

Sandra ·

Dis so hartseer om te moet lees, mense, bly in jul afgebakende gebiede wat die lewensredders aandui. hulle doen dit nie om dowe neute nie. Hulle ken die see en see strome. By Melkbos is daar sterk strome. Die see is nie jou maatjie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.