Tiener verdrink by seilwedstryd

Colin Prins se ouers en ander familielede op die toneel waar die tienerseun Saterdag (13 Oktober 2018) gesterf het. Foto: NSRI

Die gemeenskap van Mosselbaai in die Wes-Kaap is in rou gedompel nadat ʼn tienerseun Saterdag in Island Lake by Wildernis naby George verdrink het.

Die 17-jarige Colin Prins, ʼn lid van die Mosselbaai Seiljag- en Bootklub, het tydens ʼn regatta saam met ander deelnemers in die meer geswem toe hy onder die water verdwyn het.

Mike Vonk, pligkontroleerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) op Wildernis, het gesê NSRI-bemanning, die SAPD en lede van die provinsiale en ander nooddienste is omstreeks 12:55 na dié toneel ontbied. By hul aankoms het hulle Prins op die oewer van die meer gevind waar ʼn omstander besig was om mond-tot-mond-asemhaling op hom toe te pas.

Paramedici het by die omstander oorgeneem en alles in hul vermoë gedoen om die tiener weer by te bring, maar tevergeefs. Hy is op die toneel dood verklaar.

Volgens Vonk was die regatta veronderstel om Saterdagoggend plaas te vind maar dit is uitgestel weens sterk winde. Prins sou aan die seilwedstryd deelneem en het toe saam met ander deelnemers in die meer geswem terwyl hulle gewag het om te sien of die regatta later sou hervat. “Hy het skynbaar in die moeilikheid beland en het onder die water verdwyn,” het Vonk gesê.

Ooggetuies het dadelik alarm gemaak en twee veiligheidsbote het Prins te hulp gesnel. Swemmers het ook hand bygesit en een van die swemmers, glo ʼn voormalige vlootduiker, het Prins onder die water uitgebring.

Colin Prins se ouers en ander familielede op die toneel waar die tienerseun Saterdag (13 Oktober 2018) gesterf het. Foto: NSRI

Volgens Vonk is Prins op een van die bote na die oewer geneem, maar dit was reeds te laat. ʼn Geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Cathy Avierinos, voorsitter van die Eden-sportraad, het gesê Prins se ouers het Sondag die plek besoek waar hul seun gesterf het in ʼn poging om tot verhaal te kom ná die tragiese voorval. Volgens Avierinos ontvang al die ooggetuies van Prins se dood tans berading om die voorval te verwerk.

Die Mosselbaai Seiljag- en Bootklub het op hul Facebook-blad gesê woorde ontbreek om die hartseer te verwoord wat Prins se dood veroorsaak het. Die klub het gesê hulle sal Prins se familie en vriende bystaan.

Ook Sandy Joseph Witteveen, president van die George Lakes-seiljagklub, het hulde aan Prins gebring. “Mag sy siel nou huis toe seil om vir ewig te rus.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.