Tiener verdrink; kleuter byna ook

Die NSRI het die seun se liggaam onder die water opgespoor. Foto: Netcare 911

ʼn Tiener het Saterdag in KwaZulu-Natal verdrink, maar ʼn kleuter het kort daarna in ʼn swembad ternouernood aan die dood ontkom.

Omstreeks 15:30 het Netcare 911 se paramedici op ʼn verdrinking by Meerenseestrand op Richardsbaai aan die provinsie se noordkus gereageer, sê Shawn Herbst, Netcare 911-woordvoerder. “Volgens berigte van die toneel het die 16-jarige seun vermis geraak terwyl hy in die see geswem het.”

Toe hy nie opgespoor kon word nie, is die owerheid in kennis gestel, vertel Herbst. “Die NSRI se Stasie 19 het ʼn soektog na hom uitgevoer en sy liggaam onder die water gekry. Hy is geassesseer, maar toe geen tekens van lewe gekry kon word nie, is hy dood verklaar.”

Sowat ʼn driekwartier later het dieselfde nooddiens op berigte van ʼn verdrinking in ʼn swembad by ʼn woonhuis in Bisley, Pietermaritzburg, gereageer.

Herbst sê ʼn familielid het ʼn driejarige kind in ʼn swembad aangetref wat geen reaksie getoon het nie. “Die kind is uit die swembad gehaal en het toe tekens van lewe begin toon.”

Netcare 911 het haar op die toneel geassesseer en gevorderde lewensondersteuning op haar toegepas. Sy is daarna per ambulans hospitaal toe gebring vir verdere behandeling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.