Tiener verdrink naby seiljagklub

(Argieffoto: NSRI)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het Woensdag 17:20 reageer op ʼn noodoproep van ʼn moontlike verdrinking naby die Red House-seiljagklub in Port Elizabeth.

Lede van die Suid-Afrikaanse polisie se duikeenheid en die Oos-Kaapse nooddienste was reeds op die toneel. “Ons seereddingseenheid is onmiddellik na die toneel ontplooi. Daar gekom, het hulle gevind dat ʼn 13-jarige seun vermis geraak het terwyl hy in die Swartkopsrivier naby die seiljagklub geswem het. Met ons aankoms op die toneel het duikers reeds die seun se liggaam gevind en was besig om hom uit die water te haal,” sê Jonathan Tufts, woordvoerder van die NSRI in Port Elizabeth. “Die seun is ongelukkig op die toneel dood verklaar.”

Volgens Tufts is die seun se liggaam deur die patologiese dienste van die Oos-Kaapse departement van gesondheid verwyder en die polisie het ʼn nadoodse ondersoek gedoen. “Ons dra ons innige meegevoel aan die familie van die oorlede seun oor,” sê Tufts.

Dieselfde dag is die NSRI ontbied ná inligting ontvang is oor ʼn verdrinking by Wedge-strand in Durban. “Om 20:18 het ons reddingsvoertuig by die plaaslike metropolisie se soek-en-reddingseenheid aangesluit, waar vier mense glo deur ʼn seestroom meegesleur is,” sê Paul Bevis, verbonde aan die NSRI in Durban. Drie mans en een vrou is glo die see in gesleep.

“Met ons aankoms op die toneel kon een man reeds daarin slaag om self by die strand uit te kom. Die vrou is vermoedelik deur omstanders uit die see gehaal en na ʼn hospitaal vervoer,” sê Bevis. Volgens Bevis is die liggaam van ʼn man in die vlak water naby die strand opgemerk. Hy is op die toneel dood verklaar. “Die vierde swemmer word steeds vermis en die metropolisie soek nog na hom,” sê Bevis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.