Tiener verdrink, nog twee vermis in see by PE

(Argieffoto: NSRI)

ʼn Tienerseun het verdrink en nog twee mans word steeds vermis in die see by die Wells Estate-strand in Port Elizabeth, nadat hulle Woensdag vermoedelik deur ʼn sleurstroom meegesleur is.

Jonathan Tufts, adjunkbevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se basis in Port Elizabeth, het gesê reddingsdienste is om 18:36 na die strand ontbied.

In daardie stadium het ʼn omstander reeds met kunsmatige asemhaling op ʼn 18-jarige seun begin wat op die strand uitgespoel het. Volgens Tufts het paramedici pogings oorgeneem om die kind se lewe te red, maar hy is op die toneel dood verklaar.

ʼn 17-jarige seun het intussen ook op die strand uitgespoel en is ongedeerd.

Nóg twee mans, onderskeidelik 20 en 28 jaar oud, word egter steeds vermis en ʼn soektog na hulle is begin.

“Ondanks ʼn uitgebreide soektog op see en langs die kuslyn, was daar geen teken van hulle nie. Die polisie sal die voortgesette soektog oorneem,” het Tufts gesê.

In dié stadium lyk dit of die twee tieners en die 20-jarige man geswem het, toe hulle in die moeilikheid beland het. Die 28-jarige omstander het probeer help, maar is self meegesleur.

“Die NSRI, namens al die betrokke dienste, betuig sy medelye met die familie en vriende van die oorlede tiener,” het Tufts gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.