Tiener verdrink; soektog na nog vermistes by Drieankerbaai duur voort

Verskeie eenhede is ontplooi om na die drie vermiste tieners by Drieankerbaai te help soek. (Foto: NSRI)

ʼn Tiener het verdrink en die soektog na drie ander duur Maandagoggend voort nadat hulle by ʼn strand by Seepunt in Kaapstad in die onstuimige see vermis geraak het.

Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het gesê aanvanklik is NSRI-reddingspanne van Tafelbaai, Bakoven en Houtbaai, sowel as ʼn lugsoekspan Sondag om 14:17 ontplooi nadat berigte oor ʼn verdrinking ontvang is.

Verskeie polisielede, reddingsbote, reddingswemmers van die NSRI, lede van die Kaapstadse nooddienste, ʼn duikeenheid, verkeersdienste, wetstoepassers, paramedici én ʼn reddingshelikopter het ook by die soektog aangesluit.

Lambinon het gesê die vier vriende, almal buitelanders, het in die moeilikheid beland toe ʼn golf oor hulle gespoel en hulle in ʼn sleurstroom beland het. ʼn Omstander het hulle probeer help, maar het óók in die moeilikheid beland.

ʼn Branderryer het dié persoon weer uit die water gehelp en paramedici op die strand het verder na hom omgesien, het Lambinon gesê.

Drie ander branderryers het die 15-jarige seun van Burundi se liggaam in die water opgemerk en op een van hulle branderplanke gesit. ʼn Reddingswemmer van die NSRI het sowat 200 meter vanaf Rocklands-strand die see ingeswem en het op die branderplank met kardiopulmonêre resussitasie begin. ʼn Reddingsboot het daar by hulle aangesluit en die seun, die drie branderryers en die NSRI-swemmer na die strand geneem.

Paramedici op die strand het pogings voortgesit om die seun weer by te bring, maar die kind is op die toneel dood verklaar.

Die soektog na drie tieners duur voort. (Foto: NSRI)

ʼn Uitgebreide soektog van die see – uit die lug en langs die kus – is van stapel gestuur. Daar was teen vanoggend egter steeds geen teken van die drie jongmense nie. Hulle is onderskeidelik ʼn 18-jarige man van Burundi, ʼn 16-jarige tienerseun van die Kongo, asook ʼn 15-jarige meisie van die Kongo.

Polisieduikers sit die soektog voort.

“Ons betuig ons medelye met die vriende en familielede van die oorlede tiener en ons gedagtes is by die families van die drie vermiste tieners in dié moeilike tyd.

“Die NSRI loof ook die drie ongeïdentifiseerde branderryers wat ingegryp het en die 15-jarige seun uit die water opgepik en op ʼn branderplank gesit het.”

Die gesinne van die drie vermiste tieners het hulle intussen ook by die polisie as vermis aangemeld. eNCA berig die vier is vlugtelinge wat by die Central Methodist Church in die Kaapstadse middestad gewoon het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jaco ·

Sjoe Nettie

Hardeen uiters ongevoelige woorde. Hoe weet jy hulle was vlugtelinge, ken jy hulle? Nee jy neem dit aan.

Net oor jou vlugteling punt wat jy sommer so uit die heup skiet.Mag jy nooit in jou lewe in n posisie wees waar jy dalk na ander land moet gaan om aan die lewe te bly nie. Dis nie hulle skuld as die SA regering nie die grense beheer nie.

Die menslikke instink is om alles te doen wat jy kan om te oorleef en veral as jy kinders het om hulle n toekoms te gee.

Jy is geregtig op niks in die of enige ander land nie, haal die chip van jou skouer af

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.